Die feesseisoen hoef nie jou gesonde gewoontes heeltemal in die wiele te ry nie. Selfs met min tyd vir oefening en ‘n kalender vol kuiergeleenthede kan klein, volhoubare veranderings jou help om aktief te bly en jou algemene welstand bevorder.
“Dit is nooit te laat om met jou gesondheid te begin nie. Die belangrikste is om vandag te begin en nie vir die perfekte tyd te wag nie,” sê Tinike Groenewald, administrasie- en bedryfskoördineerder by Body20 Paarl.
Konsekwentheid bo kitsoplossings
Volgens Groenewald is die beste benadering ‘n kombinasie van gereelde oefening, gebalanseerde voeding, genoeg water en goeie slaap.
Sy sê daar is ongelukkig geen wondermiddel wat iemand oornag fikser gaan maak nie, en onrealistiese verwagtinge kan daartoe lei dat ‘n mens drastiese veranderings aan jou eetgewoontes maak of te veel oefen.
Sy raai mense aan om eerder op gesonde gewoontes en volhoubare vordering te fokus.
“Jou doelwit moet wees om sterker, gesonder en fikser te geword, nie om ‘n sekere syfer op die skaal te sien nie,” sê sy.
Volgens Groenewald kan vier weke se konsekwente oefening reeds ‘n positiewe verskil maak aan ‘n mens se energievlakke, krag, fiksheid en algemene welstand. Veranderings verskil egter van mens tot mens.
Sy moedig mense aan om hul vordering aan meer as net hul gewig te meet en ook te let op hul krag en hoe hulle voel.
Balans in die feestyd
Die feestyd hoef nie te beteken dat mense hul gesonde gewoontes heeltemal laat vaar nie. Volgens Groenewald gaan dit eerder oor balans as om sekere kossoorte heeltemal te vermy.
Sy moedig mense aan om hul gunsteling-feeskos te geniet, maar ook proteïen, groente en ander voedsame kos by hul maaltye in te sluit.
Groenewald sê ryk nageregte, lekkers, southappies en alkoholiese drankies kan maklik ekstra kilojoules by ‘n mens se dag voeg. Alkohol kan volgens haar ook slaap en herstel beïnvloed.
“Een groot ete gaan nie jou vordering vernietig nie, net soos een gesonde ete jou nie oornag gaan maerder maak nie. Dit gaan oor jou gewoontes oor tyd,” sê sy.
Genoeg water, gereelde beweging en ‘n gebalanseerde eetpatroon kan ook help om die liggaam gesond te hou, aldus Groenewald.
Sy waarsku egter dat opgeblasenheid verskeie oorsake kan hê en dat water nie ‘n kitsoplossing daarvoor is nie.
Oefen selfs wanneer jy min tyd het
Vir mense met besige programme kan kort oefensessies ‘n praktiese manier wees om aktief te bly.
Volgens Groenewald kan dié kort sessies ‘n opsie wees vir mense wat sukkel om tyd vir oefening te maak.
Sy beklemtoon egter dat gereelde beweging steeds belangrik is en dat ‘n kombinasie van kragoefeninge en kardiovaskulêre aktiwiteit voordelig kan wees.
Mense wat met vakansie is en nie toegang tot ‘n gimnasium het nie, kan ook tuis oefen, gaan stap of swem.
Groenewald stel ‘n eenvoudige oefensessie van ongeveer 15 minute voor met ‘n opwarming gevolg deur hurksitte, opstote, uitvalle, plankoefeninge en stap op die plek waar jy staan. Die oefeninge moet volgens elkeen se fiksheidsvlak aangepas word, met die klem op korrekte tegniek eerder as spoed.
Beplanning kan ook help om oefening deel van die feestyd te maak. Volgens haar behoort mense hul oefensessies vooraf te beplan wanneer die week vol familiebyeenkomste en ander verpligtinge gaan wees.
“Motivering kom en gaan, maar konsekwentheid is wat resultate bring,” sê Groenewald.
Sy moedig mense aan om realistiese doelwitte te stel, klein vordering te vier en ondersteuning by ’n afrigter of oefenmaat te kry.
Haar boodskap is dat mense nie tot Januarie hoef te wag om gesonder gewoontes aan te leer nie.
“Jy hoef nie perfek te wees nie — jy moet net begin!” sê sy.




