“Ek is mal oor woorde omdat hulle krag het. ‘n Enkele woord kan iemand inspireer, troos of selfs ‘n hele storie verander.”
Só sê Rhyle Adams van die Paarl wat in Maart vanjaar Suid-Afrika trots sal maak wanneer hy, as lid van ‘n groep jongmense, die land gaan verteenwoordig by die African Spelling Bee van 18 tot 21 Maart in Harare, Zimbabwe.
Die afgelope drie jaar het Rhyle die geleentheid gehad om op beide provinsiale en nasionale vlak aan spelkompetisies deel te neem. In hierdie tydperk is hy ook al bekroon as die Wes-Kaapse spelkampioen en SA kampioen.
African Spelling Bee deelname
“Nou het ek weer eens ‘n groot geleentheid om deel te wees van die SA span en om die land in Zimbabwe in die African Spelling Bee te verteenwoordig. Ek is trots op al my prestasies omdat dit wys ek is veerkragtig; al het ek nie al my kompetisies gewen nie, het ek nooit opgegee nie. My deursettingsvermoë het my gehelp om sterker na my doel te werk en ek is trots op elke wen en verloor.”
Volgens Rhyle, ‘n gr.11-leerder aan Klein Nederburg Sekondêr, bevind hy homself gereeld woorde hardop lees of selfs in sy gedagte ‘n woord letter vir letter uitspel.
“Dit help my om die klanke, patrone en struktuur van die woord beter te verstaan. Soms hoor ek amper die woord in my kop terwyl ek dit uitspel – veral as dit ‘n moeilike of onbekende woord is,” vertel Rhyle opgewonde.
Die jongman sê hy doen gereeld navorsing oor sekere kategorieë en oefen gereeld nuwe woorde, van hoe om dit te spel tot selfs te definieer.
“As ‘n spelkompetisie-kampioen weet ek hoe belangrik dit is om nie net die spelling van ‘n woord te ken nie, maar ook sy oorsprong, betekenis en hoe dit gebruik word. Dit voel amper soos om ‘n skat te ontdek elke keer as ek ‘n nuwe woord leer.”
Rhyle meen spoed is een van sy sterk punte en dit lei daartoe dat hy ook baie selfversekerd is wanneer hy aan die spoed- rondes deelneem, veral omdat hy ook altyd homself goed voorberei.
“Ek kry ‘n gevoel van verligting en kalmte van ek weet dat dit my oomblik is om vir die gehoor en vir die ander spellers te wys dat ek verdien om hier te wees.
Tans beklee Rhyle die vierde plek as top-speller in Suid-Afrika en hy sien daarna uit om sy vaardighede op kontinentale vlak te wys en om sy beste te probeer.
Lees verbreed algemene kennis
‘n Voordeel van al die navorsing wat hy doen, lei ook daartoe dat Rhyle oor goeie algemene kennis beskik.
“30 seconds is een van my gunsteling-bordspeletjies en ek floreer daarin, te danke aan my kennis oor verskeie woorde en my vermoë om woorde te manipuleer sodat mense hul betekenis makliker sal verstaan.
Met die spelkompetisie wat kom sien Rhyle daarna uit om dit te geniet, maar ook droom hy daarvan om as die kampioen gekroon te word.
Rhyle beskou sy pa, Werner Adams, as sy grootste ondersteuner en motiveerder. Die tiener erken hy kon dit ook nie sover maak sonder sy onderwysers se ondersteuning nie.
“Ek wil ook dankie sê aan my gr. 8- Engels-onderwyseres juffrou Moerat vir alles wat sy vir my gedoen het in verband met voorbereiding en ondersteuning,” voeg Rhyle by.
“Ek is baie trots op Rhyle,” sê Werner. “Hy is hardwerkend en deeglik. As hy iets aanpak laat hy my ook verbaas oor sy dissipline ten opsigte van sy voorbereiding en hy plaas nog steeds skoolwerk nommer 1.”
Finansiële kostes
Vir Rhyle om die kampioenskap by te woon moet sy familie self die kostes dek wat R7 100 beloop, wat teen 15 Maart betaal moet word. Werner sê tot dusver het hulle reeds uitgereik na ondernemings en individue vir enige finansiële skenking.
“Ons bly hoopvol. Enige vorm van finansiële bydrae sal help. Ons will net by voorbaat dankie sê indien u ‘n skenking gaan maak en ons wil ook vra dat u bid vir Rhyle asseblief. Ons wil ook leerders motiveer om betrokke te raak by SA Spelling Bee, want dit maak beslis deure oop vir ons kinders.”
Enigeen wat vir Rhyle wil ondersteun kan vir Werner kontak by 073 602 0830.





