Die ou elektrisiteit-substasie op Prasa se perseel in Wellington knou gemoedere van omliggende inwoners oor die haglike toestand van die perseel, wat “ongewenste elemente” lok.
Die plaaslike raadslid Stephan Landsberg het in ’n onlangse plasing op die Wellington-aksie-groep (WAG/Stop) op Facebook daarvan melding gemaak.
Hy wys met foto’s hoe dié gebou op Prasa se grond geheel en al vervalle is en “daar is geen hulp aan omliggende inwoners wat al jare oor dié probleemgeboue kla nie; afbreek mag jy nie, want dit behoort aan die staat”.
In dieselfde asem het hy die gesprek geopen vir behulpsame verwysings na regshulp of kundigheid wat aan dié gebied se pleidooie gehoor en bystand sal lewer.
Die plasing het ’n gesprek onder gegriefde Wellingtonners ontlont, met kommentaar soos: “En so sal relevante owerhede, soos met menige ander taai-toffie-situasie, net die bal aangee en sê dit is die ander party se probleem en dit dan ignoreer, sodat dit inwoners se frustrasie en probleem word.
“As die raadslid van daardie wyk enigsins sy/haar sout werd was, sou hy/sy alles in hul vermoë doen om die wyk se inwoners te help; daarmee saam ook die relevante Drakenstein- munisipale departemente.”
Dit het uiteraard ook vrae soos dié ontketen: “Hoekom kan gewone inwoners deursettingsvermoë toon met staatsdepartemente waarmee hulle lang paaie vir antwoorde moet stap, maar niemand by die Drakenstein-munisipaliteit is bereid om dieselfde te doen nie?”
Vir dié inwoners is dit ’n daaglikse werklikheid, wat tot ander bekommernisse uitkring.
“Saans word vure onder die asbesdakke gemaak. In een stadium het kinders ook dwelms hier kom koop.”
Sommiges glo die beste sal wees om die geboue te sloop, maar ander let daarop dat daar mense is wat by vorige geleenthede glo in die verhuring of verkoop van die perseel belanggestel het.
Die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van beplanning en ontwikkeling, Jacqui Samson, het op Paarl Post se navrae oor die staatsgebou gereageer:
Sy sê die munisipaliteit moedig inwoners aan om klagtes rakende probleem-persele en -geboue by die kliëntedienstoonbank aan te meld, of deur e-pos na customercare@drakenstein .gov.za te stuur.
“By die ontvangs van ’n nuwe klagte word dit op die ‘probleempersele-skedule’ aangeteken, waarna ’n terrein-inspeksie deur die munisipaliteit se wetstoepassings- en boubeheer-afdelings uitgevoer word om die omvang van die probleem te bepaal.
“Daarna sal as ’n eerste stap met die grondeienaar in gesprek getree word ten einde te probeer om ’n aanvaarbare oplossing – sonder wetlike prosedures – te vind.
“Indien ’n aanvaarbare oplossing nie tydens gesprekvoering gevind kan word nie, sal die nodige wetlike proses daarna onderneem word,” het Samson verduidelik.
Samson het ook gesê in hierdie spesifieke geval van die Prasa-gebou is die wetstoepassingsafdeling reeds in gesprek met Prasa ten einde ’n oplossing vir die toestand van die genoemde perseel en geboue te probeer vind.
“Alle grondeienaars, insluitend staatsinstansies, is onderhewig aan alle munisipale verordeninge en moet dus daaraan voldoen.”





