Waterlekke kan groot finansiële druk veroorsaak vir huishoudings wat reeds sukkel om kop bo water te hou, aangesien hierdie huishoudings dikwels nie die finansiële vermoë het om te betaal om waterlekke te laat regmaak nie.
Conrad Poole, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het onlangs in sy begrotingsrede vir 2022-’23 gesê die munisipaliteit sal hulp aan sy behoeftige verbruikers bied.
“Behoeftige verbruikers wat sukkel met waterlekkasies, wat tot hoë rekenings en vermorsing van hierdie kosbare hulpbron lei, kan binnekort ’n bietjie makliker asemhaal,” het Poole gesê.
Die munisipaliteit het dus ’n loodgieterdiens aangestel om hierdie lekkasies te herstel – veral dié wat by behoeftige verbruikers se huise voorkom, sodat hul uitstaande skuld nie verder styg nie.
Volgens Poole is altesaam 313 waterlekke vir die tydperk Junie 2021 tot Mei 2022 teen ’n algehele koste van ongeveer R720 000 herstel.
Volgens die munisipaliteit besoek sy ingenieursdienste-afdeling elke maand die perseel van die sowat 100 hulpbehoewende verbruikers in die Drakenstein wat die meeste water gebruik om vas te stel:. of hul watermeterlesings akkuraat en waar is;. hoeveel mense op die perseel woon;. of die perseel lekkasies het, en indien wel, waar dit is; en. of water vermors word.
Hierdie inligting word dan gebruik om die werklike oorsaak van die verbruiker se hoë waterverbruik te bepaal. Indien dit die gevolg van ’n lekkasie is, word die eienaar in kennis gestel en gevra om die lekkasie te laat herstel.
Baie behoeftige verbruikers kan egter nie bekostig om sulke lekkasies te laat regmaak nie. Die Drakenstein-munisipaliteit lewer dan hierdie loodgieterdiens en verseker dat behoeftige verbruikers se rekeninge nie verder agterstallig raak nie.
“Enige behoeftige verbruiker wat ’n groot waterrekening ontvang het en van mening is hy het nie die water verbruik nie en / of dat dit weens ’n waterlek kan wees, kan ons naaste munisipale betaalkantoor besoek en ’n versoek rig dat die moontlike waterlek by ons ingenieursdienste-afdeling aangemeld word om ondersoek en / of herstel te word,” verduidelik Bradley Brown, finansiële hoof by die Drakenstein-munisipaliteit.. Waterlekke kan by 021 807 4715 of 080 131 3553 tolvry (alle ure) aangemeld word.
Inwoners kan ook lekkasies via die SeeClickFix-toepassing aanmeld.




