Kubermisdaad is niks nuuts nie, maar tydens die Covid-19-pandemie het dit die hoogte ingeskiet en steeds woeker hierdie misdaad voort.

In ’n onlangse plaaslike geval is ’n vrou, haar dogter asook ’n vriend van byna R14 000 deur ’n kuberkuller besteel.

Hierdie diefstal is gepleeg toe iemand op ’n sosialemediagemeenskapsgroep talle huishoudelike artikels teen winskopiepryse geadverteer het.

Die “vrou”, wat haarself as Veralynn van Blue Mountain Mews voorgedoen het, het beweer haar ouers skaal af en gaan na ’n ouetehuis trek en moet dus ontslae raak van die meeste van hul eiendom, wat volgens haar goed opgepas en in ’n byna splinternuwe toestand is.

Van die produkte was byvoorbeeld ’n Defy-konveksie-mikrogolfoond vir R1 000, ’n Genisis-stofsuier vir R1 500, ’n Trojan-trapmeul vir R3 000 en talle ander. Die pryse was ’n breukdeel van die ware waarde van sulke goedere, en natuurlik was hierdie “winskopies” vir talle onweerstaanbaar.

Maar natuurlik het die ou gesegde ingetree – as dit te goed is om waar te wees, is dit nie waar nie.

Die slagoffer, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het gesê iemand nuut het by ’n gemeenskap se Whatsapp-groep aangesluit en toe ’n advertensie vir gehalteprodukte teen spotgoedkoop pryse geplaas.

Die Afrikaanssprekende vrou was ook baie oortuigend en het selfs ’n foto van haar ID gestuur – maar die was waarskynlik ’n gesteelde of vervalste dokument.

Sy kon ook foto’s van al die artikels – alles in ’n puik toestand – verskaf.

Mense op die groep het behoorlik gespring om te koop.

In die advertensie sê die vrou omdat die pryse so redelik is en die aanvraag daarna groot, verkoop sy alles volgens die beginsel “first come, first served”.

Maar, het sy bygevoeg, sy is tans uitstedig en ernstige kopers moet ’n deposito betaal om die produk te verseker. Net hier moes die waarskuwingsligte al begin flikker het.

Die adverteerder, Vera, het laat weet sy en haar man gebruik slegs ’n gesamentlike bankrekening vir hul onderneming, en sy wil nie daarop sake gedoen hê nie, dus moes mense ’n kontantbetaling deur CashSend doen.

Verskeie mense het na bewering betalings gedoen en, nodeloos om te sê, nooit die goedere gesien of weer van die verkoper gehoor nie.

Party het selfs by die woning in Vrykyk, wat sy as die adres vir besigtiging aangegee het, aangeklop, maar dit was vals.

Die selfoonnommer wat die kuberkuller op die groep geplaas het, is nou permanent af.

Een van die slagoffers het gesê omdat die adverteerder op ’n beperkte gemeenskapsgroep was, het dit ’n vals sin van betroubaarheid geskep. “Ek is baie versigtig vir scams en het wraggies ook in die strik getrap!

“Wees versigtig. Mense raak al hoe slimmer!” het die klaer gesê.. Mondli Gungubele, minister in die presidensie belas met die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), het onlangs in ’n Parlementêre vraag-en-antwoord-sessie gesê kubermisdaad hou ’n al groter bedreiging vir Suid-Afrika se nasionale veiligheid in.

Hy het gesê die rede hiervoor is dat kubermisdaad in die afgelope twee jaar tydens die Covid-19-pandemie teen ’n “kommerwekkende” pas toegeneem het.

Volgens Gungubele word kubermisdaad toenemend ’n groter bekommernis vir nasionale veiligheid en het die toename in afstandwerk tydens die pandemie tot die skerp toename daarvan bygedra.

  • Cybercrime has grown to epic proportions and the public is warned to be extremly vigilant when it comes to any on-line transactions.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article