Die Paarliet Leanie van der Vyfer is ’n besonderse ontwerper. Met haar verbeeldingryke denke pak sy kunssinnige konsepte, waaronder speelgronde, klimrame en speelhuise, met flair aan.
Van der Vyfer is bekend vir talle projekte, onder meer die buitengewone klimrame op Bosjes en Tokara, asook die onlangs gevestigde speelhuis op Soetmelksvlei – ’n nuwe toeristeaantrekking wat besoekers aan Babylonstoren kan geniet.
Sy is ’n ontwerper van beroep en werk in verskeie mediums, onder meer met keramiek en kledingstukke.
Dit is egter met haar klimrame wat sy naam gemaak het nadat sy een op Bosjes gemaak het. Daarna het Tokara haar genader, en toe ook Soetmelksvlei vir hul speelhuis – ’n projek wat tot dusver haar gunsteling is.
Van der Vyfer is ’n Paarliet in murg en been en het in 1998 aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer.
Ná skool wou sy haar kunstigheid verder ontwikkel en het net meer as ’n dekade later, in 2012, aan die Gerrit Rietveld Academie in Amsterdam gegradueer.
“Daar word ’n mens opgelei om enigiets te ontwerp. Ons is geleer om konseptueel te dink en die denkwyse kan op letterlik enigiets toegepas word,” sê Van der Vyfer.
“Ek sien klimrame amper as landskapkuns wat geskep word deur die reëls van parkies en die verbeeldingryke denke van kinders. ’n Kind se verbeelding ken geen perke nie. Hulle is uiteindelik my verbruikers en ek probeer op dieselfde manier dink wanneer ek te werk gaan om ’n parkie of speelhuis te skep.”
Die speelhuis op Soetmelksvlei is gegrond op die Herehuis wat tans as ’n museum vir die publiek oop is.
“Ek het al die kamers herbedink om dit deur ’n kind se oogpunt te vertolk,” sê Van der Vyfer.
“In die leeskamer is die muurpapier en mat van die Herehuis deur die kunstenaar Octavia Roodt oorgeteken, om dit meer kinderlik en uitlokkend vir kinders te maak.
“Daar is ook ’n eetkamer wat deur Gabi Alberts in miniatuur voorgestel is as ’n kunswerkie bo die kaggel, en kinders word ook aangemoedig om deur die kaggel te kruip tot in die slaapkamer, waar die bed ’n trampolien is. Wie wil nou nie op ’n bed spring nie!”
Die speelhuis se kombuis is ook interaktief, en hier kan kinders met kammakastige hout ’n “vuur” bou en speel-speel kos maak.
“Ek wou kinders baie gee om mee te speel. Daar is klein diertjies oor die hele huisie, en selfs ’n muishuis om in een van die mure te ontdek.”
Volgens Van der Vyfer is haar benadering met enige van haar ontwerpe om die onmiddellike omgewing waarin die ontwerp sal staan, in ag te neem.
“Veral met ’n speelgrond, wat moontlik 50 jaar of meer gaan bly staan, is dit belangrik om die omgewing na te boots of aan te vul en nie net ontwerpneigings te volg nie.”
“Hier probeer ek altyd om natuurlike materiale en kleure te gebruik wat in die landskap sinvol is.”
Van der Vyfer verduidelik dat sy met die konsep begin, waarna sy en ’n ontwerp-ingenieur saamwerk om dit in lewende lywe te ontwerp.
“Met die klimrame is dit natuurlik belangrik om die struktuur as argitektuur te benader, dus help ’n ingenieur baie hiermee,” sê sy.
Oor die toekoms is dié Paarliet opgewonde en sy het verskeie idees wat sy nog wil realiseer.
“Ek sal graag ’n binnemuurse speelplek vir die Boland wil ontwikkel. As kinders het ons altyd [die karakter] Noddie se kasteel gehad, maar ek sien ’n groot gaping in die mark vir binnemuurse klimrame wat kinders deur die nat winters kan gebruik en geniet.”
Een van haar drome is ook om ’n sensoriese speelpark vir outistiese kinders te ontwerp.
“Dit is ’n wêreld wat my fasineer en dit kan tot nog baie kreatiewe projekte lei.”
Gaan volg Van der Vyfer se besigheid, genaamd Onder Die Invloed, op Instagram of besoek haar webtuiste.





