Drie Wellington-polisiemanne – sers. Terrence Williams, AO Denzil Hendricks en konst. Keynen Levember – het op dié klomp koper ter waarde van byna R277 000 beslag gelê, maar die hof het die beskuldigde glo net gewaarsku.


Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, wil graag drie van sy polisiebeamptes vereer nadat hulle verlede Donderdag ’n vermeende koperdief in hegtenis geneem het.

Die koper waarop dié polisiemanne beslag gelê het, het ’n straatwaarde van byna R277 000. “Die koper moet nog teruggeëis word en dit word beweer dat die skade aan infrastruktuur ongeveer R180 000 beloop,” het die beamptes verduidelik.

AO Denzil Hendricks, konst. Keynen Levember en sers. Terrence Williams sê dit voel goed om misdadigers voor die hof te bring.

Letsele Phamotse (35) het Maandag in die Wellington-landdroshof op aanklagte van beskadiging van openbare infrastruktuur en die besit van vermeende gesteelde eiendom verskyn. Dit is bevestig dat hy ’n buitelander is wat nie oor toepaslike identiteitsdokumente óf permitte beskik nie.

Die polisiemanne het gesê sulke suksesse is meer en meer moontlik danksy insette van die oplettende gemeenskap.

“Ons het ’n leidraad van die publiek ontvang dat ’n voertuig met inhoud wat soos koper lyk op die Hermonpad gewaar is. Die klomp koper was oop en bloot duidelik sigbaar,” sê die een polisieman.

Die beamptes het Phamotse by ’n verkeerslig in Stokery-weg vasgetrek.

“Die saak sal weer op 17 Februarie verhoor word, aangesien die ondersoek tot die misdaad nog nie voltooi is nie,” het Barkhuizen bevestig.

“Die beskuldigde was na die eerste hofsitting op ’n waar-skuwing vrygelaat. Indien die beskuldigde nie opdaag vir die volgende hofsitting nie, sal ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik word.” Hy sê die hofprosedures was nie duidelik in die dossier aangedui nie.

Pogings is deur Paarl Post aangewend om dié bewerings met die Wellington-landdroshof te bevestig. Ná meer as een oproep na die kantoor het ons geen antwoord ontvang nie, en vier alternatiewe kontaknommers het getoon dié nommers bestaan nie meer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article