Ons as inwoners van Suid-Afrika het ’n besondere moeilike en uitdagende twee jaar agter die blad.
Onsekerheid, verlies en angs is sekerlik die woorde wat die afgelope paar jaar die beste kan opsom. Ons is gekortwiek deur soveel uitdagings en onbeheerbare taktieke om ons te ontspoor.
Sommiges van ons verkies om nie eens nuwe voorneme vir die jaar daar te stel nie, want niemand weet wat dit kan inhou nie. Die nuwe jaar is skaars twee weke oud.
Ons is nog in die toetsfase van hoe dinge gaan wees, maar wat ons nou doen en oor ons lewens spreek, gaan die res van die jaar bepaal.
Die Chinese werk jaarliks op ’n simboliese kalender geskoei op ’n dier-figuur. Vanjaar is veronderstel om die gelukkigste een nog te wees – die jaar van die haas.
Chinese glo sterk daarin dat hierdie diere geluk, vrede en vreugde simboliseer, maar ons elkeen glo en dink verskillend. Dit is wat ons as mensdom uniek maak en ook soms uitdagings oor ons pad bring.
Kom ons kies om te glo dat hierdie jaar net verder geluk sal bring.
Uitdagings en verlies sal daar altyd wees, maar ’n goeie uitkyk is ’n keuse.
Kom ons kies geluk.
Mag die jaar van die haas vir elke leser geluk inhou.




