Groot opwinding heers vir die 20ste aanbieding van die bekroonde en gewilde Suid-Afrikaanse Kaasfees namate die Erfenisdag-langnaweek in Septembermaand nader kruip.
Die Sandringham-landgoed buite Stellenbosch speel weer ouder gewoonte die gasheer vir hierdie fees, wat vanjaar van Saterdag (23 September) tot Maandag (25 September) aangebied word.
Die 2023 SA Kaasfees beloof om smulpape van alle ouderdomme aan ’n wêreld van kaas bekend te stel en hulle op ’n verskeidenheid fynproewers-lekkernye te trakteer.
“Die SA Kaasfees is meer as net ’n geleentheid – dit is ’n viering van amper meer as twee dekades se kulinêre lekkerte,” sê Jacques Fourie namens die feesorganiseerders. “Hierdie fees bied feesgangers ’n merkwaardige samesmelting van fynproewers-ervarings, musiek en prettige vermaak,” voeg hy by.
Die SA Kaasfees se nuwe permanente The Pavilion-geriewe op die feesperseel beslaan twee verdiepings en gaan BBP-gaste op ’n spesiaal saamgestelde kulinêre reis neem – wat alles van proe-en-pas-werksessies tot ’n luukse ontspanningsruimte sal insluit, sowel as private spyseniering.
Die kaartjies vir hierdie premie-ervaring is nou aanlyn beskikbaar en gaste word aangemoedig om hul kaartjies vir hul gekose datums vroegtydig te bekom.
Die SA Kaasfees roem homself op die wye verskeidenheid aanbiedings en besienswaardighede wat daar elke jaar op die fees is. Só verseker die feesorganiseerders dat elke kaartjie ’n rykdom van waarde inhou.
Die SA Kaasfees maak voorsiening vir die smake en voorkeure van elke feesganger – hetsy dit met kaas- en wynproeë is of lewendige musiekvermaak en heelwat ander opwindende aanbiedinge.
Feesgangers sal vanjaar weer die geleentheid kry om aan ’n wye verskeidenheid gehalte-kase te kan smul tesame met goeie wyne as die perfekte pasmaats.
Hoewel die feeskaartjie besoekers toegang bied tot al die gratis kaasproeë, kan ’n wynproeglas vir R35 by die fees gekoop word om die diverse verskeidenheid onbeperkte wynaanbiedings te proe.
Daarbenewens gaan bekende kenner-sjefs interessante kosdemonstrasies lewer, en so hul insigte oor die kookkuns deel sowel as oor kaasvariëteite en die kuns om kos en wyn bymekaar te pas.
Daar word ook ’n uitstekende musiekprogram aangebied, met uitsonderlike kunstenaars en musiekgroepe soos Prime Circle, Watershed, Gerhard Steyn, Elvis Blue, Tasché, Juan Boucher, Mark Haze en nog baie meer wat gaan optree.
Buiten die splinternuwe karnaval-styl pretpark sal daar ook helikopter-ritte van die feesterrein af wees. Besoekers sal ’n keuse hê tussen ’n twee-minute- pretvlug of ’n langer 10-minute-vlug oor die Kaapse Wynlande.
Nog ’n toevoeging tot vanjaar se SA Kaasfees-program is die Culinary Marketplace, ’n vertoonplek vir ’n skatkis van handgemaakte produkte, fynproewers-lekkernye, wyne en nog baie meer van plaaslike uitstallers wat graag hul produkte aan feesgangers wil bekend stel.
Feeskaartjies is direk by Howler beskikbaar by www.howler.co.za/SAcheesefestival.
Vir meer inligting oor vanjaar se SA Kaasfees, insluitend die volledige musiekprogram, besoek gerus die SA Kaasfees se webwerf by www.cheesefestival.co.za.




