Laerskool Paarl Gimnasium is in rou ná ’n geliefde onderwysstudent, wat al Suid-Afrika, die Wes-Kaap en die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) in netbal verteenwoordig het, in ’n motorongeluk dood is.
’n Vriendelike omgee-mens met ’n passie om met kinders te werk, beskryf Uffendall Pienaar (26) sy sussie, Ancia Pienaar (23). Sy het Vrydagnag (11 Augustus) op pad na haar ouerhuis in Koekenaap, noordwes van Lutzville, verongeluk. Die presiese omstandighede oor die ongeluk is nog onbekend.
Ancia sou die volgende dag deurgery het, maar wou haar familie dié aand gaan verras.
Dié talentvolle netbalspeler is al in haar matriekjaar aan die Hoërskool Lutzville vir die Suid-Afrikaanse Protea- o.18-netbalspan gekies en het haar land in Australië gaan verteenwoordig.
Sy het ná skool onderwys by Kovsies gaan studeer, waar sy vir die universiteit se netbalspan asook die Free State Crinums, die provinsiale netbalspan, gespeel het.
Uffendall vertel die Vrystaat was net té ver vir dié Weskuskind, wat besluit het om haar studies by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington-kampus) voort te sit.
Sy is in 2021 vir die Wes-Kaap se Southern Stings-span gekies.
Carina van Niekerk van Tutor Time in Vredendal, by wie Ancia in 2022 prakties gedoen het, beskryf haar as ’n besonderse mens. “Sy het altyd alles vir die leerders gegee en ’n mens kon altyd op haar staatmaak. Haar passie vir onderwys het uitgestraal.”
Vanjaar was haar vierde en finale jaar en sy het ook die o.12- en o.13-netbalspanne van die Laerskool Paarl Gimnasium afgerig, wat volgens Uffendall dié seisoen baie goed gevaar het.
Laerskool Gimnasium se adjunkhoof Hennie Nel, het gesê dat Ancia in ’n kort tydjie ’n groot impak gemaak het en hul harte gaan uit na haar familie en vriende.
Haar kêrel van die afgelope drie jaar, Ruben Agenbach (31), ’n boer van Koekenaap, sê sy het die mooiste hart gehad. “Die mooiste gedeelte van haar was haar liefdevolle hartjie. Sy was die sagste, vriendelikste mens en uiters liefdevol.”
Uffendall sal haar veral vir haar vriendelikheid onthou. “Die rede hoekom sy onderwys gaan swot het, was juis omdat sy ’n omgee-hart vir kinders gehad het.”
Sy was nét so lief vir sý twee kinders. “Sy kon nooit wag om hierdie kant toe te kom en tyd saam met ons almal te kom deurbring nie.”
Huldeblyke vir Ancia het op sosialemediaplatforms ingestroom. Die Kaapse Wynland-etbalfederasie het hul meegevoel betuig vir hul “liefste Ancia Pienaar” wat “deur baie gemis gaan word”.
Vivienne Williams beskryf Ancia as ’n pragtige siel met die mooiste glimlag. “Stil, maar as jy geglimlag het, het jy die hele skare gelok. Terwyl ons mekaar [se trane] afvee en vertroos, weet ons dat God net die mooiste blom pluk.”
Lutzville Netbal het ’n foto gedeel van Ancia in aksie as deel van die Lutzville-onniespan, wat vanjaar die toernooi in die dorp gewen het.
Die Weskus-netbalfederasie het in hul huldeblyk hul groot skok met haar dood uitgespreek en gesê “sy is gewis ’n speler wat ’n geweldige impak gehad het op almal wat haar pad gekruis het”.
Toe sy in die Kovsies-span was, is Ancia ook ná ’n wedstryd teen die Universiteit van Johannesburg as die speler én onderskepper van die wedstryd aangewys.
Die Pienaar-gesin is verpletter.
Die begrafnis word vir Saterdag 26 Augustus beplan. Die familie sal ’n kennisgewing uitreik wanneer al die reëlings gefinaliseer is.





