Die Paarl-Oos polisie, Drakenstein-wetstoepassers en ’n veearts Maandagmiddag (29 Januarie) op die toneel waar ’n bobbejaan vasgevang is in ’n huis in Kanariestraat.Foto: Rasaad Adams


Die bobbejaan wat verlede week Paarliete op hol gehad het, is vermoedelik terug!

Die mannetjie gedoop Kees het glo Maandagmiddag (29 Januarie), presies ’n week nadat hy sy verskyning in die middedorp gemaak het, besoek gaan aflê aan inwoners in die Amstelhof-woonbuurt in Paarl-Oos.

Die gebied is geleë naby die voet van die Drakenstein-berge (Du Toitskloofpas), waar wetstoepassers van die Drakenstein-munisipaliteit en ’n veearts van Wellington hom verlede Maandag (22 Januarie) vrygelaat het.

Kees het verlede week die middedorp rondgehardloop en uiteindelik by die Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor vir ’n paar uur gaan vertoef. Hy is daarna na die landdroshof, ’n klipgooi weg van die munisipale gebou, waar ’n veearts hom uiteindelik kon verdoof.

Inwoners van Amstelhof was Maandagmiddag in rep en roer toe hulle die vreemde besoeker teëgekom het. Die bobbejaan het besoek gaan aflê in Jan Fiskaal- en Kanariestraat en het groot skares gelok.

Paarl Post-verslaggewer Rasaad Adams is op die toneel en het bevestig dat die bobbejaan vasgevang is in ’n inwoner se huis. Wetstoepassers, die Paarl-Oos-polisie asook ’n veearts is op die toneel om die situasie te beredder.

Hierdie is ’n ontwikkelende storie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article