Die plaaslike Jacobs Sport Assist (JSA-stigting) sê hy is gerat om komende Saterdag (29 November) altesaam 16 Drakenstein-spanne welkom te heet wat in ‘n sewestoernooi by die sportterrein in Newton vir prysgeld van R22 000 gaan meeding.
Volgens Joshua Jacobs, die stigting se direkteur, is die doel met die naweek se toernooi om rugbytalent uit veral agtergeblewe gemeenskappe in Drakenstein teen toon te stel.
“Ons het hierdie spanne gaan identifiseer uit gemeenskappe soos Chicago, Amstelhof en die Payton in Wellington.
“Daar is altesaam 16 spanne wat in vier afdelings gaan speel vir ‘n plek in die eindstryd om dan vir die R22 000-prysgeld in aanraking te kom.
“Vir die JSA gaan dit alles oor geleenthede skep. Ons het juis onlangs weer met ‘n groepie Kaapstad toe gereis vir die bekendstelling van die Senatla-7’s-toernooi, wat deur die Springbok-legende Seabelo Senatla begin is.
“Daar het ek weer eens besef ons kinders kom nie genoeg uit hul woongebiede uit nie. Dit is ‘n riem onder die hart om die opwinding op hul gesigte te sien wanneer hulle rugbyspelers sien wat hulle gewoonlik net op die TV sal dophou,” het Jacobs vandeesweek gesê.
Die eerste wedstryd skop Saterdagoggend om 09:00 af. Die toernooi sal na verwagting die hele dag duur, met die eindstryd wat omstreeks 17:00 sal plaasvind, gevolg deur die prysuitdeling.
Jacobs sê hoewel die meeste van die tegniese reëlings reeds getref is, het die stigting met teleurstelling verneem dat die Drakenstein-munisipaliteit, wat finansiele steun belowe het, onttrek het.
“Ons het ook ‘n brief aan die burgemeester gerig. Ons het gehoop die munisipaliteit sou die waarde daarvan sien om in die toekoms van ons plaaslike rugbyspelers te belê,” sê hy.
Hy het ‘n beroep op ondernemings en die gemeenskap gedoen om die stigting op watter wyse ook al by te staan.
• Kontak Jacobs by 061 246 5080 vir nog inligting.





