Die Wellington-polisie se ondersoek duur voort.
Die Wellington-polisie se ondersoek duur voort.

Jongman van Wellington wat hond ‘verkrag’, nog vry


Dit is kommerwekkend dat ‘n jongman van Wellington, wat glo op video afgeneem is hoe hy na bewering ‘n hond verkrag het, nog nie in hegtenis geneem is nie.

Só sê Penny de Klerk van die Paarl Doenit-­groep, wat hulself beywer oor diere en mense wat minder bevoorreg is.

“Die saak is reeds in Januarie vanjaar by die Wellington-polisie aangemeld en die dierebeskermingsvereniging op die dorp het ook ‘n rape kit op die hond gedoen en dit aan die polisie oorhandig.”

Paarl Post het in Februarie oor die beweerde gruweldaad, wat op video afgeneem is, berig.

Die video van die gruweldaad waartydens ‘n dragtige hond verkrag word, is aan die polisie oorhandig. Die voormalige stasiebevelvoerder in Wellington, kol. Johan Barkhuizen, het toe aan die koerant verduidelik dat die verdagte reeds geïdentifiseer is. Barkhuizen het bygevoeg dat ‘n ondersoek aan die gang is en dat die ondersoekbeampte “reeds verskeie bewyse ingesamel” het.

“ ’n Mens weet nie eens meer wat om ­hierdie soort gedrag te noem nie – so wreed is dit. Die hartseerste van als is die feit dat sulke voorvalle gereeld gebeur, maar daar word nie altyd berig hieroor nie,” sê De Klerk. Sy wil graag hê geregtigheid moet geskied vir die hond wat die trauma moes beleef het. “Mense sê die jongman wat dit gedoen het, is nie ‘normaal’ nie, maar iets moet gedoen word.”

Paarl Post het vandeesweek met die eienaar van die hond gepraat. Die hond se kleintjies is kort ná die beweerde voorval van bestialiteit verwyder en het gevrek.

“Die voorval het in Januarie gebeur toe my seun die jongman op ons erf gewaar en gesien het waarmee hy besig is. Hy het toe die video-opname gemaak. Ek het eers getwyfel of ek enigiets moet doen, maar toe ons hom ‘n tweede keer op ons erf gewaar, het ek dit aangemeld. Hy was so slim die tweede keer toe hy by ons erf insluip, want hy het sy skoene uitgetrek om enige geraas te vermy.”

Volgens die eienaar, wat verkies om anoniem te bly, het hy juis die voorval aangemeld voordat dit vererger.

“Ek het net by myself gedink vandag is dit ‘n hond en môre is dit ‘n kind. Die jongman het nog nie in die hof verskyn [nie] want hy is nooit in hegtenis geneem nie. Ek het die polisie gevra en hulle het gesê hy kan as gevolg van sy geestestoestand nie aangekla word nie.”

Kapt. Frederick van Wyk, ‘n woordvoer­der vir die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat ‘n saak van bestialiteit by die Wellington-polisie aangemeld is.

“Die betrokke hond is na ‘n veearts geneem, wat nie kon vasstel of daar enige penetrasie was nie. Neem kennis dat die beeldmateriaal wat verskaf is, geen verband hou met die bogenoemde saak nie en spreek van ‘n ander voorval wat in November 2025 plaasgevind het. Die ver­dagte is weens sy verstandelike vermoë nog nie in hegtenis geneem nie.”

Van Wyk voeg verder by: “[Hy is volgens] dokumentasie van die skool wat hy (die verdagte) bygewoon het, geëvalueer en hul verslag sê dat hy die verstandelike vermoë van ‘n minderjarige het. Hierdie saak sal na die senior staatsaanklaer gestuur word vir ‘n besluit.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article