Ná meer as ’n dekade se rompslomp en hofverskynings is Johan du Toit Vrydag (18 Augustus) in die streekhof in Kaapstad vrygespreek op aanklag van die moord op sy vrou Chanel du Toit.
Du Toit is daarvan beskuldig dat hy Chanel in Julie 2010 verwurg het in hul kothuis op die Dieu Donné-wynlandgoed in Franschhoek. Daar was onder meer ook beweer dat hy op ’n jagtog na Laingsburg gegaan het nadat hy haar vermoor het, en toe sy ma gekontak en gevra het of sy nie wil gaan kyk waarom Chanel so stil is nie omdat hy haar nie in die hande kon kry nie.
Die 28-jarige Chanel se liggaam is deur haar skoonma ontdek. Du Toit is kort daarna in hegtenis geneem op aanklag van moord.
Die saak het die afgelope jare voorgekom in die Paarl-streekhof, maar is verlede jaar na die Kaapse streekhof oorgeplaas, waar die saak aangehoor is deur landdros Joe Magele. Aangesien Magele ’n afloslanddros is, was daar dus nie ’n beskikbare hofsaal vir hom in die Paarl nie. Die Kaapse streekhof het genoeg kapasiteit en dus was daar ’n hofsaak beskikbaar om die saak aan te hoor.
Ná 13 jaar se gesloer in die hof het Magele Vrydagoggend Du Toit onskuldig bevind omdat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat hy ten tyde van Chanel se dood in hul kothuis was nie.
Nadat die hof verdaag het, het Johan en sy ma in trane uitgebars en mekaar omhels.




