Dit is nie net ‘n bedreiging vir enige land se demokratiese beginsels nie, maar wek ook groot kommer wanneer joernaliste, wat die maatskaplike verantwoordelikheid aanvaar het om leiers aanspreeklik te hou, deur hierdie einste mense in magsposisies geïntimideer en in sommige gevalle deur die land se howe vervolg word.
Dit was verlede week die kollektiewe boodskap deur ‘n paneel gesoute ondersoekende joernaliste op ‘n gespreksessie by die Suidoosterfees in Kaapstad in aanloop tot Wêreldpersvryheidsdag, wat die afgelope Saterdag (3 Mei) gevier is.
Die paneel het bestaan uit die joernaliste Caryn Dolley, Pieter-Louis Myburgh, Karyn Maughan en Jana van der Merwe en is gelei deur Mia Spies van Netwerk24.
Hoewel hulle almal vir verskeie publikasies skryf, het hulle een ding in gemeen – hulle het almal deurgeloop vir hul verslaggewing oor beweerde ongerymdhede wat deur hoëprofiel-figure gepleeg is.
Caryn Dolley, ‘n ondersoekende joernalis by die Daily Maverick, het vertel van die doodsdreigemente wat sy oor die jare weens haar beriggewing oor die onderwêreld ontvang het.
Dolley is die skrywer van die boek Clash of the Cartels wat fokus op die internasionale dwelmhandel en georganiseerde misdaadnetwerke wat Suid-Afrika as ‘n belangrike spilpunt gebruik.
Daarin ontbloot sy hoe verskeie internasionale kartelle – insluitend die Mexikaanse, Colombiaanse, Europese en plaaslike bendes, soos die 28’s – met mekaar meeding en soms saamwerk om beheer oor dwelmroetes, hawens en die Suid-Afrikaanse mark te verkry.
“Hoe meer mense jy mee praat, hoe meer besef jy dat georganiseerde misdaadnetwerke oral is . . . Vir my gaan dit dus nie net oor my veiligheid as joernalis nie, maar ook oor hoe misdaad indringing maak op feitlik al ons stelsels,” sê sy.

Myburgh, die skrywer van die boek Gangster State: Unravelling Ace Mgashule’s
Web of Capture, het klem gelê op hoe moeilik dit vir joernaliste geraak het om inligting vir ondersoekende joernalistieke doeleindes te bekom.
“Ons ervaar oor die algemeen ‘n probleem met departementele woordvoerders wat eenvoudig nie op medianavrae reageer of vrae behoorlik beantwoord nie. Hoewel die media grondwetlik geregtig is op antwoorde, gaan dit eintlik vir my maar meer oor die feit dat die publiek behoort te weet wat met hul belastinggeld gebeur.
“Ondersoekende joernalistiek het ‘n baie duur praktyk geword. Ons moet dikwels ‘n klomp geld aan regsfirmas betaal om inligting deur die howe te bekom,” sê hy.
Maughan het op haar beurt vertel hoe sy en adv. Billy Downer in 2022 deur oud-
president Jacob Zuma privaat vervolg is en “soos misdadigers” in die hooggeregshof in Pietermaritzburg moes verskyn.
“Dit was ‘n emosionele proses . . . Dit was een van daardie sake wat bewys het hoe
diegene in magsposisies en met geld dit kan gebruik om joernaliste tot stilte te dwing.”






You must be logged in to post a comment.