Dit is byna onmoontlik om die historiese begraafplaas aan die voet van Paarlberg naby Bosmanstraat te besoek.
Groot steunpilare wat hand bygesit het om die Paarl te vorm tot wat die dorp vandag is, is hier ter ruste gelê.
Lede van die gemeenskap wou die begraafplaas onlangs besoek, maar is begroet deur die verwaarloosde grafte wat half toegegroei is deur die bosse, en bome wat omgeval het.
Die grafte sluit in dié van eerwaarde George Barker van die Londense Sendinggenootskap, asook sy dogter Elizabeth Barker, wat die stigter van die Hoër Meisieskool Paarl was. Die vrygestelde slaaf Jason Adams, wat in 1820 as die eerste lid van die Het Gesticht kerk gedoop is, is ook hier begrawe.
Paarl Post het met Hybré van Niekerk, ’n plaaslike toergids en voormalige kurator van die Het Gesticht-museum, oor die bewaring van dié en ander historiese begraafplase in die dorp gesels. Van Niekerk het die begraafplaas onlangs saam met die stamboomnavorser Aubrey Springveldt en die digter en skrywer Diana Ferrus besoek. Sy sê dit sou ideaal gewees het as toergidse besoekers aan die dorp deur die begraafplaas op ’n begeleide staptoer kan vergesel.
“Volgens geskiedkundige inligting en bronne bestaan die historiese begraafplaas aan die voet van Paarlberg reeds van die 1880’s af. Voormalige gemeentelede van Het Gesticht, ook bekend as die Zionsgemeente, onder wie Jason Adams, Conrad Theys en vanne soos Fortuin, Kearns, Adonis, Hendricks, Jacobs, Faraoh, Benjamin en Steenkamp – om net ’n paar te noem – verskyn in die sterftekenisse van die “Missionary Graveyard”, vertel Van Niekerk.
Sy sê die voorouers van inwoners in Drakenstein wat hier begrawe is, lidmate was van kerke soos Zions VGK, Bethel Congregational kerk, Huguenot VGK, Immanuel VGK en Bet-El VGK.
Behalwe dat natuurlike elemente ’n rol in die beskadiging van die grafte gespeel het, heers nou ook die kommer oor haweloses wat in die omgewing slaap, vuur maak en rommel strooi.
“Dié grafte is ’n integrale deel van die erfenis van die gemeenskap. Van die meeste vooraanstaande families van Drakenstein se voorsate kan nagespeur word tot by die Het Gesticht-gemeente. Dit moet vir ons ’n gevoel van trotsheid gee om jou kinders en kleinkinders te kan neem om hul voorouers se grafte te gaan besoek en die stories aan die nageslag te kan oordra,” verduidelik Van Niekerk.
Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die begraafplaas se historiese grense sal bepaal word, waarna instandhouding gedoen sal word. “Ons sal onder meer aandag gee aan die beheer van indringerplante en -bome asook die uitdun van struike om beter toeganklikheid te bewerkstellig. Beter toegang na die begraafplaas sal ook voorkeur geniet.”. It is almost impossible to visit the historic cemetery at the foot of Paarl mountain, near Bosman Street, because it is neglected and overgrown with bushes.




