HERMON – Geen besproeingstelsel, spreiligte wat nie werk nie en die algemene instandhouding van die veld is van die probleme waaraan die rugbyklub in Hermon hoop die Drakenstein-munisipaliteit voor die aanvang van aanstaande jaar se rugbyseisoen aandag sal gee.
Die klub sê vir etlike jare vra hy dat die munisipaliteit, soos in die geval van ander sportvelde, ‘n permanente opsigter moet aanstel.
“Ons buurdorpe soos Saron and Gouda het hulle eie permanente opsigter. Hier kom so af en toe iemand uit daai twee dorpe om na die veld te kyk.
“Die gevolg is dat die klub self pogings moet aanwend om die veld in ‘n speelbare en veilige toestand te kry. Daar is byvoorbeeld nie ‘n besproeingstelsel nie. Ons moet self die veld natmaak met pype wat ons by plaasboere in die omgewing gekry het,” het Rodney Louw, die voorsitter van Hermon se Porseleinberg-rugbyklub, vandeesweek gesê.
Die Porseleinberg-rugbyklub is deel van die Boland-rugbyunie (BRU) en speel in die BRU se gemeenskapskild-liga.
Volgens Louw word gereeld klagtes oor die stand van die veld by die munisipaliteit ingedien.
“Die munisipaliteit is bewus van die probleme waarmee ons hier sit. Ons spe- lers, insluitend die netbalvroue, moet in die donker oefen omdat iets so eenvoudig soos spreiligte nie herstel kan word nie.
“Ons vra nou al sedert 2010 dat die veld omhein word. Daar is net ‘n omheining vir die veld self – sodat toeskouers nie tydens wedstryde die veld betree nie. In die rugbyseisoen staan mense sommer teen die R46-pad. Van daar af kan hulle ook die veld se enkele houtpawiljoene betree. Omdat daar geen omheining is nie, is dit vir ons onmoontlik om die gemeenskap se beweging te beheer,” sê Louw.
Hy sê die hele veld kort ernstige aandag.
“Ons het iemand parmenent hier nodig, wie se werk dit is om na die veld om te sien. En daai werk moet juis noudat die seisoen klaar is, gedoen word. Dit voel dan vir ons ander munisipale velde geniet voorkeur bo Hermon.”
Volgens Louw is daar geen tafels en stoele in die klubhuis nie, wat vergaderings en ander saamtrekke bemoeilik.
Faarieg Rhoda, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag gesê die sportafdeling het skynbaar slegs een klagte ontvang en dit was rakende die ligte.
“Belanghebbendes is daarna ingelig dat ‘n tenderproses vir die herstel van ligte by al die munisipaliteit se sportterreine tans in uitvoering is. Die herstelwerk sal na verwagting in Januarie 2026 begin.
“Die munisipaliteit is ook besig om tafels en stoele vir gebruik in die klubhuis by die Hermon-sportgronde aan te skaf. As ‘n tussentydse maatreël word diegene wat die klubhuis bepreek, versoek om die munisipaliteit in kennis te stel hoeveel tafels en stoele hulle benodig.”
Volgens Rhoda maak die munisipaliteit se huidige kapitaalbegroting voorsiening vir geld om die ingang van die Hermon-sportveld op te gradeer. Hierdie projek is op 23 Oktober 2025 suksesvol afgehandel.
“Die munisipaliteit wil die inwoners van Hermon verseker dat al die sportvelde in die munisipale gebied dieselfde prioriteit geniet.”





