Mense moet ophou mekaar so stief behandel. Vandag se lewe is so kort – een oomblik is jy hier en die volgende oomblik is jy dood.
Ons kan nie meer bekostig om so vol kwaad, haat en vol kleinlikheid te lewe nie. Wees lief vir jou naastes, en hou op ander mense probeer afdruk met skinderpraatjies en lelike woorde.
As jy niks goeds te sê het nie sluk jou woorde, en hou maar jou mond. Hou ook op ander se foute probeer uitwys, as jy nog nie self introspeksie gedoen het nie. Niemand is foutloos nie, maar vee eers voor jou eie deur voordat jy jouself oor jou bure se gemors bekommer.
Hou jou besig met opbouende goedjies. Begin ’n tuin, verf of pak ’n stokperdjie aan wat jy nog altyd wou doen.
Tyd is kosbaar. Gebruik dit vir kosbare dinge en mense wat saak maak. Lewe mooi van binne na buite.


