Ons is soms so behep met die gedagte van wat ander mense dalk van ons dink, dat ons vergeet van die mooiheid in onsself.
Vroeër dié week lees ek ’n inskrywing op sosiale media wat puntsgewys praat van die goed wat ons moet uitpak – die onsienbare goed wat ons binne ’n onsienbare tas dra. Baie kere is die tas sommer lekker swaar, maar steeds trek ons dit saam met ons.
Ons is halfpad deur die jaar en ek dink dit is dalk nou die beste tyd om daai tas uit te pak. Niemand wil die jaar afsluit met swaar bagasie op die skouers nie. Ons moet leer om net die goed wat saak maak saam met ons te dra. Ons moet dit nie net in die laaste helfte van die jaar wat voorlê, toepas nie, maar ook vir die res van ons lewe.
Jy is tot baie in staat. Gooi weg daai vrese wat jou van die wêreld se geleenthede terughou. Dalk is jy nie bang vir dit wat jy nie kan doen nie, maar eerder dat jy veel groter en meer kan bereik as wat jy dink. Moenie dat die lig wat in jou skyn jou bang maak nie. Deel dit met ander. Moenie jou gawes terughou net omdat jy soms aan jouself twyfel nie. Gooi sommer daai twyfel ook in die drom.
Die ding waaroor jy soms die meeste in jouself twyfel, kan dalk net die inspirasie wees wat die wêreld nodig het – ’n teken vir iemand anders om nie op te gee met hulself en hul talente nie.
Doen introspeksie. Gaan soek na die wortels van jou negatiewe gedagtes. Soms vertel ons negatiewe onwaarhede aan onsself. Dis ook soms die goed wat ons selfvertroue plattrek. Alles wat jy wil wees, is reeds in jou geplant. Jy hoef nie buite jouself daarna te gaan soek nie. Dis baie moeilik om van ou gewoontes ontslae te raak, maar dit is moontlik. Jy moet net uithou en aanhou. Stel vir jou doelwitte en mag dit jou elke dag aanpor wanneer jy voel jy wil nie verder probeer nie. Dit vat ’n mens glo ’n maand om ’n nuwe gewoonte aan te leer, maar dan moet jy die nuwe gewoonte wat jy wil instel elke dag toepas totdat dit sy plek in jou lewe gevind het.
Gebruik jou seer uit die verlede en skep dit in iets nuuts om. Die lewe is maar rof met ons almal. Omstandighede kom en gaan, maar ons almal het die krag om enige struikelblok te oorkom.
Die koronavirus-pandemie is ’n goeie voorbeeld. Dit het ons lewens skielik en onverwags ontwrig en omvergegooi. Hoewel ons elke dag nog met die nagevolge van die pandemie sukkel, pak ons steeds elke dag aan, en dis wat saak maak. Ons het baie verloor, maar ons het nou ook baie om in die toekoms te wen. Neem die seer van die afgelope twee jaar en begin ’n nuwe projek of ’n nuwe stokperdjie wat jy nog altyd wou doen, soos verf, fietsry of dalk kook; iets wat jou laat ontspan en net weer ’n bietjie laat asem haal.
Laat gaan enige wrokke. Dit doen jou niks goed nie en jy baat glad nie daarby nie. Mense is soms lelik met jou, en al gesonde ding wat jy vir jouself kan doen, is om gesonde grense te stel en daarby te hou.
Een ding om in gedagte te hou, is dat mense se gedrag teenoor jou soms niks met jou te doen het nie. Dit is soms daai “inner battles” wat hulle met hulself baklei; ’n wrok.
Net so moet jy ook nugter wees oor hoe jy ander mense behandel; om nie dit waarmee jy sukkel op ander uit te haal nie. Om te laat gaan, is om te vergewe, en om te vergewe bring innerlike vrede. En wie wil nie in vrede met homself en ander leef nie? So, laat dit gaan, wat dit ook al is. Dit trek jou af – fisiek en emosioneel – en jy baat niks daarby nie.
Die pandemie sedert 2020 tot nou het gewys die lewe kan in ’n oogwink verander. Draai jou aandag weg van alles waarby jy nie baat vind nie, en begin doen die werk in jouself. Dis die beste geskenk wat jy aan jouself kan gee. Elke dag wat jy het, en veral wat jy daarmee maak, maak saak. Jy hoef nie te wag vir ’n Nuwejaar of ’n spesiale dag om jou lewe, gedagtes en gewoontes te verander nie; om te vergewe nie. Die tyd is nou. Die oomblik, wat tyd betref, is al waaroor jy seker is jy nou het. Gebruik dit mooi, maak die beste daarvan en geniet dit.
’n Mens lewe net een keer.
Geniet die rit – met al sy hobbels en al.




