Foto’s van haweloses wat snags in Kerkstraat by die Hugenote-kollege in Wellington skuil en slaap is vandeesweek onder die aandag van Paarl Post gebring.
Die foto’s was by ’n e-pos aangeheg waarin een van Wellington se vuurvreters, Christine Marais, amptenare van Drakenstein-munisipaliteit (DM) en wetstoepassing oor dié kwessie aanspreek.
“Wat gaan aan by julle wetstoepassingsafdeling en veelgeroemde nagskuiling as die hele dorp se straatslapers uitkamp by Hugenote-kollege? […] Ons vra al vir jare. Ons stuur byna daagliks foto’s. Julle doen niks,” maan Marais.
Die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, het hierop teruggekap.
“DM wil skerp kapsie maak teen Christine Marais se lasterlike bewerings dat die munisipaliteit belastinggeld wan-aanwend en ‘mense doodskiet’. Dit is van alle waarheid ontbloot,” sê Esau.
Esau bevestig dat die aangestelde diensverskaffer vir die Wellington-nagskuiling, Networking for Christ (NFC), uitstekende dienste lewer.
“Die verandering is prakties sigbaar, ook met verwysing na die model van herintegrasie.”
Hy meen dat DM se wetstoepassings-afdeling deurlopend besig is om haweloses van die straat af te hou deur hulle bewus te maak van die beskikbaarheid van die oornagskuiling.
“NFC het ook begin met direkte intervensie met individue wat steeds buite die oornagskuiling is. Daar moet egter op gelet word dat deelname aan dié program op ’n vrywillige basis geskied en mense nie gedwing kan word om in te skakel nie.”
Oor die Wes-Kaap heen word uitsettingsbriewe uitgereik wat die regering in staat stel om die toename van onwettige besetters op private of staatseiendomme te bestry.
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het verlede Maandag (20 Februarie) dié ondersteuningsdienste, wat die Wes-Kaapse regering aan alle hawelose en kwesbare mense in die Wes-Kaap bied, beklemtoon.
“Hierdie dienste is ingesluit by ’n reeks dienste wat deur die Stad Kaapstad aangebied word, wat die afgelope paar jaar ’n toename in mense wat op straat woon, dikwels op gevaarlike plekke, gesien het.”
Só lui die verklaring van Winde se woordvoerder, Regan Thaw.
Ten einde hierdie onwettige besettings te beëindig, het die Wes-Kaapse hooggeregshof die Stad Kaapstad se aansoek toegestaan dat uitsettingsbriewe by sekere persele in die sentrale sakedistrik uitgereik sal word, wat ’n deurslaggewende stap op die pad van herstel vir die streek ná die Covid-19-pandemie is.
“Die Wes-Kaapse regering bied ’n reeks dienste aan inwoners wat tans dakloos is. Ons het hierdie dienste in plek gestel sodat ons inwoners toegang tot ’n warm ete, ’n plek van skuiling en beradingsdienste kan kry gedurende ’n tyd van nood, en ons smeek al ons vennote om ons te help om die boodskap daar buite te kry dat hulp beskikbaar is.”
Onder meer wys die premier daarop dat een van hul pogings om haweloses by te staan altesaam 2 398 beddens in hawelose skuilings insluit wat tans elke dag deur die departement gefinansier word.
Die jongste toevoeging van beddens was by fasiliteite in Vishoek, Elsiesrivier en Wellington.
Hier verwys Winde na die Wellington-nagskuiling wat jare lank in afwagting van die gemeenskap deur die Drakenstein-munisipaliteit op 15 Augustus 2022 met ’n eksklusiewe byeenkoms geopen is.
Dit het omstredenheid ontlok toe Wellingtonners wat al die jare plaaslike haweloses ondersteuning bied, soos Laetitia Cupido en Clifford Asia van G-Voucher, om net ’n paar te noem, by die opening van die nagskuiling uitgesluit is.
By dié opening het die burgemeester, Conrad Poole, in sy toespraak gesê 48 mense sal hier gehuisves kan word.
“En dié 48 gaan op hierdie stukkie grond verdubbel word. Ons gaan hierdie ding dupliseer, en ons gaan hom vergroot,” het die burgemeester gesê.
Esau sê die proses van inname maak vir alle haweloses, met die prioritisering van vroue, bejaardes en gestremdes, voorsiening.
“Daar word beplan om die beskikbare beddens en kapasiteit van die nagskuiling uit te brei. NFC is in gesprek met verskillende donateurs wat moontlik hiermee kan help.”
’n Groot probleem is egter uitdagings van voortgesette dwelm- en alkohol-verslawing onder voornemende en bestaande bewoners van die nagskuiling. “Die reëls sluit in ’n drievoudige waarskuwingstelsel, en indien individue nie saamwerk nie, word hulle versoek om die perseel te verlaat.”
Hierdie reëling gee só haweloses op die waglys ’n kans om in die program opgeneem te word. Esau sê ook dat daar volgens dié stelsel sover ses mense wat steeds dwelms probeer insmokkel het uit die nagskuiling gesit is. Tog blyk dit dat daar ook suksesverhale is onder dié wat die nagskuiling verlaat.
“Sedert Desember is nege inwoners suksesvol met hul onderskeie families herenig, onder meer in Wellington, Blue Downs, Kuilsrivier, Wolseley, Gqeberha, Queenstown en Johannesburg,” sê Esau.





