PAARL – ’n Gewelddadige voorval waarin rugbyspelers en toeskouers betrokke was tydens ’n plaaslike wedstryd by die Faurestraat-stadion in die Paarl word tans deur die tugkomitee van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) ondersoek.
Die voorval het die afgelope Saterdag (18 April) plaasgevind ná ’n wedstryd tussen die Vineyards-rugbyklub van die Paarl se eerste span en die Macassar-rugbyklub se eerste span tydens ‘n super-liga B-wedstryd.
Macassar het die wedstryd 24-19 gewen.Volgens berigte het spanning glo tussen spelers en lede van die skare opgebou waarna die situasie ná die wedstryd geëskaleer het tot ’n fisieke konfrontasie waarin beide spelers en toeskouers betrokke was.
Video’s wat op sosiale media versprei is, wys hoe spelers van Vineyards, wat die gasheer van die wedstryd was, slaags raak met toeskouers op die pawiljoen terwyl Vineyards- en Macassar-spelers ook fisiek geraak het.
Die presiese oorsaak van die voorval is nog nie bevestig nie.
Die Macassar-rugbyklub het intussen in ’n mediaverklaring op sosiale media bevestig dat ’n voorval tydens hul wegwedstryd plaasgevind het en dat dit tans hul volle aandag geniet. Die klub het aangedui dat alle relevante verslae en bewyse tans saamgestel word vir voorlegging aan die unie as deel van die ondersoekproses.
Die verklaring het verder beklemtoon dat hulle geweld van enige aard ten sterkste veroordeel en dat die veiligheid en welstand van spelers, beamptes en ondersteuners ’n prioriteit bly. Hulle het ook aangedui dat verdere stappe, insluitend moontlike strafregtelike klagte, oorweeg word waar toepaslik.

Yvette Tsolo, bestuurder van sport en ontspanning by die Drakenstein-munisipaliteit (DM), het bevestig dat die WPRU die voorval ondersoek.“Die WPRU ondersoek die voorval by Faurestraat-stadion in die Paarl op Saterdag 18 April 2026, dus kan Drakenstein-munisipaliteit nie kommentaar lewer op die omstandighede wat tot die voorval gelei het nie.”
Volgens Tsolo is geen skade aan munisipale eiendom aangemeld nie. Die munisipaliteit sal die uitslag van die tugproses afwag voordat enige verdere stappe of gesprekke met plaaslike sportowerhede oorweeg word.
Die Paarlse Rugbykode het intussen bevestig dat die liggaam ook met ‘n interne ondersoek besig is.
Paarl Post het na die WPRU asook die Vineyards-rugbyklub uitgereik, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.





