Roes le Roux en Bonisisile Majali is nie net trots oor die omvang van hul oeste nie, maar ook die gehalte. Bo sit hulle trots met hul reusagtige botterskorsies en eiervrugte. Foto: Heleen Rossouw



“Ons welige groentetuin is nie bedoel om enigiemand te beïndruk nie, maar eerder daarop gemik om Hawequa-gevangenes van dag een af te leer om selfversorgend te word.”

Dit is die trotse, dog ferm, motivering van Erlene Govender as hoof van die Hawequa-gevangenisdiens.

Paarl Post is ná streng protokol om toestemming te verkry by die Hawequa-gevangenis se landerye verwelkom om die groen aan die ander kant van die (tronk se) draad te aanskou. Govender, sowel as die gevangenis se kommunikasiebeampte, Lewies Davids, het ons na die enkele hektaar waar al dié sentrum se vars produkte vandaan kom, geneem.

Die Hawequa-gevangenis se groente-afdeling is onder die topvyf onder gevangenisse, wat landwyd erken word, danksy sy oeste, gehalte en hoeveelhede.

“Hawequa het nog voordat die nasionale kommissaris aangekondig het dat gevangenisse landwyd moet werk om selfversorgend te wees, reeds sy eie stelsel gehad,” sê Govender.

Sy sê gevangenisse moes nog al die jare hul varsprodukte soos groente van buite koop. “Die beleid is nou ingestel sodat belastingbetalers se geld nie meer vir dié doelwit gebruik word nie,” het Davids bygevoeg.

“Die hele groentetuin word danksy die goeie reënval van die afgelope jaar met ons eie dam se water natgemaak.”

Nie net voed dit die monde van die gevangenes by die sentrum nie, maar ook hul praktiese vaardighede.

’n Vaste groep vrywillige gevangenes het hiervoor aansoek gedoen, van wie 12 lede Hawequa se groentetuin help versorg en groente plant en oes.

“Wat hulle hier leer, kan hulle vir ewig saam met hulle die vrye wêreld in neem, help om hul eie ondernemings te stig en ook hopelik dié kennis aan hul gemeenskap oor te dra,” sê Govender.

Die sentiment hieraan gekoppel is die hoop dat misdaad nie meer ’n oorweging in die buitewêreld vir dié voormalige oortreders sal wees nie.

Een so ’n gevangene, Marshall Flotman (25), sê hulle baat elke dag by die groentetuin.

“Dit wat ons hier doen, is goed vir ons. Toe ons in die tronk beland het, het ons nie die experience gehad om groente te plant nie. Maar Roes en Majali [die opsigters] het ons alles gewys van hoe dié werk gedoen word.

“Ons kan met die experience uitgaan en ons eie besighede begin; dis nie nodig om weer as gevangenes hier te beland nie. Begin klein, en op die ou einde kry ons dalk ons eie plase.”

Flotman wil nie hê jongelinge moet soos hy opeindig nie.

“Ek sal beslis wil uitgaan na kinders en jongmense by die huis en vir hulle ’n voorbeeld wees. Ons kan saam groente plant, dit aan mense in die gemeenskap verkoop en ook aan sopkombuise skenk.”

Die produksievermoë van die groentetuin is só suksesvol dat Hawequa soms van sy surplus-oeste aan gevangenisse soos Allandale, Malmesbury en Pollsmoor skenk.

Twaalf soorte groente word by Hawequa gekweek – kool, spinasie, beet, wortels, aartappels, patats, preie, pampoene, botterskorsies, eiervrugte, murgpampoentjies en soetrissies.

Die opsigters van die projek, Roes le Roux en Bonisisile Majali, sê hulle het baie oor die jare geleer.

Le Roux sê: “Die buurman-boer het my geleer jy moet wag totdat die wingerde bot en die akkerbome uitloop. Dit wys die grondtemperatuur is reg om byvoorbeeld pampoengewasse te plant,” vertel hy.

“Uit die een hektaar oes ons ’n gemiddelde van drie ton groente per maand,” sê Le Roux.

Die Hawequa-groentetuin het volgens Davids in sy laaste evaluering die maandelikse oeste-teiken met 182% oorskry.

“Die beste oes wat ons nog gehad het, was 15 ton in 2017 – net uit dié een hektaar,” voeg Le Roux by.

Le Roux se wenke sluit ook dié in van saad-agente waar sy voorrade aangeskaf word.

“Jy sien, ‘huisvroue’ soek als wat ’n baby is – baby tomatoes, baby spinach ensovoorts. Hier wil ons lywige groente hê om ons getalle te kan voer, waarvan sommige voorrade reg deur die winter ook moet hou, so jy kweek dit afhangend van hoe lank die raklewe daarvan is,” spog Le Roux.

Govender sê hul groente “is mooier as dié wat in ‘Woolies’tekoop is – en is alte heerlik”.

Die Hawequa-gevangenis het al sedert sy bestaan ’n groentetuin, vertel Le Roux.

“Ons is wel al sedert 2012 ten volle selfversorgend en onafhanklik. Wat ek altyd vir my manne sê, is: Wanneer hulle eendag uitkom, kan ek nie vir hulle ’n getuigskrif saamstuur nie. Maar hulle kan altyd hul hande met groot eelte aan werkgewers wys – dit wys hulle ken harde werk.”

  • The Hawequa Correctional Centre is proud to portray its beautiful veggie garden which not only gives offenders nutrition, but also teaches life lessons. This centre’s fresh vegetable production has been self-sufficient since 2012.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article