‘n Pa se frustrasie oor sy kinders wat elke dag geboelie word, het verlede week ‘n hoogtepunt bereik toe hy die betrokke seun by Ebenezer Primêre Skool in die Paarl konfronteer het.
Phaeez Abrahams het vandeesweek met Paarl Post gesels nadat ‘n video van ‘n gedeelte van die konfrontasie op sosiale media soos ‘n veldbrand versprei het. Die pa is van mening as die skool se bestuur gehoor gegee het aan vroeëre klagtes oor die boeliegedrag teenoor sy 11-jarige dogter en 13-jarige seun, sou die situasie heel moontlik nie so vererger het nie.
In die video kan duidelik gesien word hoe Abrahams die vermeende boelie aan die kraag van sy skoolhemp en baadjie vasvat terwyl hy poog om die betrokke leerder ‘n hou toe te dien, maar hom mis slaan.
Op dieselfde oomblik skree ‘n onderwyser “dis ‘n kind, meneer”, terwyl ‘n ander onderwyser besig is om die hele voorval te verfilm en verder skree “meneer, dis die tweede keer. Meneer het dit mos klaar gedoen. Meneer het mos die vorige keer vir hom so seer kom maak op die skool. Ons het dit op kamera”.
Abrahams meen die voorval wat Maandagmiddag (8 September) gebeur het, volg nadat sy dogter ná skool “in ‘n toestand” by die huis opgedaag het – dit nadat hy vroeër dieselfde oggend by die skool was om oor die situasie te praat. Die skool het hom verseker dat alles onder beheer is.
“Die middag klim sy uit die taxi in ‘n geweldige toestand. Dit lyk of sy van ‘n lorrie afgeval het. Daai kind was histeries en het gehuil. Die skoolvervoerbestuurder wat my dogter kom aflaai het, het met my gepraat en vertel wat gebeur het. Sy vertel sy was self deel van die situasie, want die klong het haar ook met klippe raakgegooi en selfs die vervoer.
“My seun het ten tyde van die gebeure weggehardloop. Ek het hom by die huis gekry en hulle weer af skool toe gevat. Die skool was reeds uit en die klong staan buite en wag vir sy bus. Ek stap tot by hom en ek vat hom aan die kraag van sy skool-
klere en ek stap saam met hom by die skool na die kantoor toe. Ek wil hom kantoor toe vat, want volgens hulle is dit protokol – dit moet by die kantoor aangemeld word, maar niks gebeur verder van die kantoor af nie.
“Dis toe dat twee juffrouens en ‘n meneer kom en hulle spring tussenbeide, want die klong is toe opstandig dat hy ingevat word en een van die onderwysers maak ‘n opname.”
Volgens Abrahams het hy toe die seun gelos en na die kantoor gegaan. Nadat hy sowat 15 minute gewag het, het sommige van die onderwysers na die kantoor gehardloop en die kantoordeure toegedruk.
“Toe is dit die tyd toe die klong die onderwysers met groot klippe tot binne in die kantoor jaag en hy hulle daarmee gooi.”
Die situasie het verder vererger toe ‘n gewapendereaksiebeampte en selfs die polisie ontbied is. Abrahams is gevra om na die Paarl-Oos-polisiekantoor te gaan, waar die situasie verder hanteer is.
Onderwysers en die vermeende boelie was ook teenwoordig. Abrahams is van aanranding aangekla en toe later op waarskuwing vrygelaat totdat hy in die hof moet verskyn.
Intussen het hy ook ‘n klagte van aanranding teen die vermeende boelie ingedien. Klagtes van onwettige verspreiding van beeldmateriaal en viktimisering is teen enkele personeellede by die skool aangemeld.

‘n Geskil tussen sy kinders het die werklikheid blootgelê. Abrahams se seun het onthul dat ‘n ander seun sy dogter seermaak. Sy het erken ‘n seun het haar geklap en op haar bors geslaan. Sy het op haar beurt onthul dat haar broer soggens aan ander kinders geld moes gee.
Abrahams sê sy seun het “protection geld” van tot R200 per dag betaal – en later is selfs R350 geëis. Dis toe dat Abrahams die boelie verlede maand die eerste keer konfronteer het.
Abrahams voel ná al sy pogings om die skool te nader vir hulp om te help om die situasie uit te sorteer, het die skool liewer sy kinders in die steek gelaat.
“Die bestuur van Ebenezer moet tot verantwoording geroep word hiervoor, want in die eerste plek is dit nalatige optrede van die bestuur se kant af. In die tweede plek is dat ons onder valse voorwendsels heeltyd in die duister gehou is dat dit wel by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangemeld is, maar dit is nooit by die WKOD of Safe Schools aangemeld nie. Dit is die heeltyd toegesmeer en intussen het dinge net erger geword.”
Intussen is Abrahams se twee kinders nie weer op die skoolterrein toegelaat nie. Hulle sal tussen sekere tye van die dag toegelaat word om hul September-eksamen onder toesig af te lê en daarna moet hulle onmiddellik verdaag. Die kinders is sedertdien na ‘n ander skool oorgeplaas.
Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die WKOD, het by navraag gesê: “Die skool het aangedui dat hy die saak by die departement aangemeld het, wat ondersoek word. Name is verskaf.
“Geen voorvalle van boeliegedrag is voorheen aangemeld nie.”
Hammond voeg by distriksamptenare en beraders het die skool besoek. Die skool volg glo die nodige protokol en die onlangse voorval is na die Paarl-Oos-polisie verwys.
Abrahams sal vandeesweek nog in die Paarl-landdroshof verskyn.





