Die plaaslike fotograaf wat aangekla is vir verkragting se verhoor het 18 Augustus begin die Paarl-streekshof. Foto: Ter Illustrasie/Pexels
Die plaaslike fotograaf wat aangekla is vir verkragting se verhoor het 18 Augustus begin die Paarl-streekshof. Foto: Ter Illustrasie/Pexels

Die vermeende fotograaf-verkragter Achmat Alexander het die afgelope Maandag (18 Augustus) in die Paarl-streekshof in sy verhoor skuld ontken.

Alexander, ‘n bekende fotograaf in die Paarl, word aangekla van die ontvoering en verkragting van Leighché (Leigh) Thomas. Sy was 19 jaar oud toe die beweerde misdade glo in Desember 2021 gepleeg is.

Thomas het Maandag getuig sy het ‘n paar jaar voor die beweerde verkragting by Alexander navraag gedoen oor fotosessies. Sy was toe 16 jaar oud en Alexander het vir haar gesê sy is “onder ouderdom”.

Soos die jare verbygegaan het, het sy van die interaksie vergeet, totdat Alexander uit sy eie uit kontak met Thomas gemaak het met die aanbod van ‘n fotosessie. Sy was toe 19 jaar oud.

Op die dag van die fotosessie het Alexander glo vir Thomas gesê dat die plek wat sy voorgestel het waar die foto’s geneem kon word, nie geskik is nie. Hy het toe glo aangedring op ‘n plek naby water en berge en hulle is na Bainskloofpas toe.

In haar getuienis het Thomas gesê Alexander het haar alkohol aangebied. Sy het die aanbod van die hand gewys. Ten spyte hiervan het Alexander steeds by ‘n winkel stilgehou en alkohol gekoop. Volgens Thomas het hy gesê die drank gaan haar help om te ontspan. Nadat hy die drank gekoop het, het hy vir haar gewys hoe om tequila met bosbessiesap en ys te meng. Thomas het erken dat sy ‘n halwe glas van die drank gedrink het. Dit het glo later geblyk dit het ‘n dwelmmiddel bevat.

Kort daarna het hulle met die fotosessie begin. Alexander het toe na bewering vir Thomas aangesê om haar rok, wat tot by haar enkels hang, effens op te lig. Sy sê hy het toe voorgestel dat hulle verder met die pad op vir nog foto’s ry.

Nadat hulle weer stilgehou het en buite die voertuig foto’s geneem het, het Alexander glo vir Thomas gesê om in die agterste sitplek van die voertuig te klim. In haar getuienis het Thomas vertel hoe sy in daardie oomblik gevoel het. Sy het gesê sy was bang, want daar was niemand anders behalwe hulle twee in die omgewing nie. Hy het haar selfoon by haar geneem en haar ouers het nie geweet waar sy was nie. Hy het homself op haar afgedwing en sy het uit vrees vir haar lewe gedoen wat hy vir haar gesê het.

Thomas het getuig hoewel sy telkens “nee” gesê het, het Alexander voortgegaan om haar te verkrag. Sy sê ook sy het nie die beskuldigde vooraf enige aanleiding gegee dat sy omgang met hom wou hê nie – nie in wat sy gesê het of selfs hoe sy haar gedra het nie. Nadat sy verkrag is, sê Thomas, het Alexander verder met haar gery om nog foto’s te neem. Sy het vir hom gesê sy moet dringend by ‘n badkamer kom, maar hy het net verder gegaan om foto’s te neem.

Volgens Thomas het Alexander daarna met haar na ‘n ander gebied gery om nog foto’s te neem. Sy onthou sy het steeds dieselfde rok aangehad. Hy het uiteindelik by ‘n vulstasie stilgehou sodat sy die badkamer kon gebruik. Sy onthou daar was mense by die vulstasie, maar sy was nie lank genoeg alleen om vir hulp te vra nie. Sy het getuig dat sy in daardie oomblik gedink het dat mense haar nie sou glo nie omdat hulle sou weet sy het gedrink en dat hy alles wat sy sê as leuens sou afmaak.

Dit het vir Thomas gevoel asof die dag nooit gaan eindig nie. Daarna het Alexander glo net die fotosessie voortgesit. Toe die fotosessie uiteindelik klaar was, het Alexander glo vir Thomas iets gekoop om te eet. Sy het geweier. Hy het haar toe afgelaai en haar aangesê om vir niemand te vertel nie, want “niks het gebeur nie”. Thomas is reguit huis toe met ‘n taxi. Alexander het daaarna glo vir haar op WhatsApp nog ‘n fotosessie aangebied en gesê sy kan dan ‘n vriend saambring.

Sy het ‘n vriendin vertel wat gebeur het en vier dae ná die voorval vir haar pa. Sy was bang en het nie haarself gevoel nie. Die saak is onmiddellik by die polisie aangemeld.

Kaylynn Palm, ‘n woorvoerder vir die burgerregteorganisasie Action Society, meen Thomas se moed om haar trauma op die getuiebank te herleef, is merkwaadig.

“Ons het haar bygestaan sedert haar gesin ons die eerste keer om hulp genader het. Ons sal aanhou om saam met haar vir geregtigheid te veg. Dit is nie net haar stryd nie, maar die stryd van elke oorlewende wat deur ‘n gebroke stelsel in die steek gelaat is en deur vrees of skaamte stilgemaak is. Geregtigheid moet seëvier.”

Die verhoor word Vrydag (22 Augustus) in die Paarl-streekhof voortgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article