Die Dal Josafat-stadion in Paarl beskik nou oor ’n splinternuwe parkeerterrein, nadat bouwerk in Maart vanjaar begin en in Junie afgehandel is. Die eerste fase van die opgraderingsprojek is Woensdag 21 Augustus tydens ’n amptelike seremonie deur die Drakenstein-munisipaliteit (DM) bekendgestel.
David Delaney, die waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die DM, het verduidelik dat die parkeerterrein uitsluitlik vir motors beskikbaar is en dat busse steeds aan die oostekant van die stadion sal moet parkeer. Hy het bevestig dat die nuwe geriewe deel van ’n drieledige opgraderingsplan is.
Die tweede fase behels die herstel van die tartan-atletiekbaan, waarvoor sowat R2 miljoen begroot is. Die derde fase sluit die opgradering van die busparkering aan die oostekant van die stadion in.

Die eerste fase alleen het die DM ongeveer R7 miljoen gekos en het grondwerk, teerwerk, randstene, padtekens, verfwerk, stormwaterkanale, bome en ander infrastruktuur ingesluit. Altesaam 305 gemerkte parkeerplekke is nou beskikbaar.
Michael Fraser, die uitvoerende hoof van Boland Atletiek, het ook die geleentheid bygewoon en sy waardering teenoor die DM vir die opgradering in die stadion uitgespreek.

Paarl Post het in Mei vanjaar berig dat die DM in die parkeergebied moes belê om aan die wet op veiligheid by sport- en ontspanningsgeleenthede (Sasrea) te voldoen. Die Sasrea-wet het ten doel om die veiligheid van mense wat groot sportbyeenkomste bywoon, sowel as hul eiendom, te beskerm.
Paarl Post het ook vroeër vanjaar berig dat die Dal Josafat-stadion se internasionale akkreditasie, wat deur Wêreldatletiek uitgereik word, aan die einde van 2024 verval het. Fraser het destyds verduidelik dat die munisipaliteit aansoek om verlenging sou moet doen, wat die stadion ’n addisionele twee jaar sou gun.
LEES OOK: Dal Josafat kry parkeergebied ter waarde van R7 m.
Akkreditasie deur Wêreldatletiek is vir agt jaar geldig. ’n Geakkrediteerde diensverskaffer het in Februarie vanjaar die stadion en sy tartanbaan geïnspekteer en ’n verslag saamgestel oor die nodige herstelwerk om vir herakkreditasie te kwalifiseer.
Delaney het tydens die opening benadruk dat hierdie nasionale en internasionale standaarde noodsaaklik is om te verseker die stadion asook die atlete wat dit gebruik, op ’n mededingende vlak kan deelneem.
Paarl Post het navrae aan die DM gerig rakende die beplande tydraamwerke vir fase twee en drie, asook of die stadion reeds herakkreditasie deur Wêreldatletiek ontvang het.
Die kommentaar sal later bygevoeg word.





