Die brand wat sedert Dinsdagaand (10 Maart) in die Du Toitskloofpas gewoed het, is ondanks versengende hitte suksesvol ingekamp en geen sigbare vlamme kom tans meer op die brandlyn voor nie.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste het saam met CapeNature bevestig dat die brand, wat spanne deur die nag besig gehou het, nou onder beheer is.
Brandbestrydingspanne het regdeur Dinsdagna tot gisermiddag gewerk om die vuur te stuit nadat dit by die Ou Pas aan die Paarl-kant van die Du Toitskloofpas uitgebreek het.
Volgens owerhede is daar tans geen sigbare vlamme op die brandlyn nie en is geen opvlammings tot dusver aangemeld nie.
LEES: Brand op Paarlberg suksesvol geblus
Grondspanne bly egter op die toneel om die gebied noukeurig dop te hou.
CapeNature sal met grondspanne en een voertuig voortgaan met moniterings- en opruimingstake in die area, terwyl die KWDM se branddienste ook inspeksies in ander gebiede sal uitvoer om seker te maak dat geen nuwe brandpunte ontstaan nie.

Die brand het plaasgevind te midde van ’n intense hittegolf in die streek, met temperature wat in dele van die Kaapse Wynlande tot naby 40°C gestyg het – toestande wat veldbrande maklik kan aanhits.






You must be logged in to post a comment.