Drakenstein-sakekamer
Van links is Willie Cilliers, (voorsitter van AHi van die Wes-Kaap), Johan Rademeyer (‘n raadslid van die Drakenstein-sakekamer), Francis Nieuwoudt (‘n raadslid van die Drakenstein-sakekamer), Dirk Breytenbach (voorsitter van die Drakenstein-sakekamer), en Ashrinee Gopi (van Nedbank). Foto: Verskaf

‘n Eer het die AHi se Drakenstein-sakekamer te beurt geval toe hulle onlangs die gesogte AHi-voorsitterstoekenning vir Sakekamer van die Jaar gewen het. Die eerbewys is op 31 Oktober in Kaapstad gehou tydens die kongres van die AHi van die Wes-Kaap.

Hierdie toekenning volg nadat die Drakenstein-munisipaliteit as die “beste munisipaliteit” in die Wes-Kaap deur die provinsiale regering in September aangewys is.

“Hierdie toekennings bevestig dat die Drakenstein-munisipaliteit en ons sakekamer op dieselfde groeipad is. Ons is ’n wenspan,” het Stephen Korabie, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit in ‘n verklaring, gesê.

Die munisipaliteit en die Drakenstein-sakekamer besef die belangrike rol wat samewerking tussen die plaaslike regering en die privaatsektor speel om ekonomiese groei te bevorder en werksgeleenthede te skep.

LEES OOK: Drakenstein Sakekamer ontwikkel van krag tot krag

“Drakenstein floreer as gevolg van die sterk vennootskap wat ons met die plaaslike ondernemings het,” voeg Korabie by.

Dirk Breytenbach, voorsitter van die AHi se Drakenstein-sakekamer, het gesê dit was ’n groot eer om die toekenning te ontvang en dra dit op aan hul lede. “Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie. Ons steun kom ook van die beste munisipaliteit. Ons werk hand aan hand met Drakenstein-munisipaliteit om te verseker dat besighede hulself in ’n gunstige en bemarkbare omgewing kan vestig. Die samewerking van die uitvoerende burgemeester, sy burgemeesterskomitee en munisipale amptenare om sake van gemeenskaplike belang aan te spreek, het beslis tot ons sukses bygedra,” volgens Breytenbach.

Die Drakenstein-sakekamer bied deur die jaar verskeie aktiwiteite en samewerkingsprojekte vir hul lede aan. “Ons is trots op die manier waarop ons ondernemings geleenthede bied vir netwerkvorming, bemarking, ondersteuning en kennis om hul produkte te bevorder en te verbeter,” het hy in die verklaring bygevoeg.

“Aan elke besigheid wat funksies geborg en aan ons verskeie aktiwiteite deelgeneem het, sê ons dankie. Ons sien daarna uit om volgende jaar weer uitstekende sakegeleenthede te ontwikkel sodat ons lede hul produkte ten beste kan vertoon.”

Hy het afgesluit deur te sê die sakekamer sien daarna uit om in 2026 nóg beter te presteer en verdere waarde vir sy lede te ontsluit om Drakenstein ’n uitstaande plek vir almal te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article