Drakenstein onderhandel vir ‘beter salaris’ om senior amp eersdaags te vul

Die Drakenstein- munisipale gebou. Foto: Rasaad Adams
Die Drakenstein- munisipale gebou. Foto: Rasaad Adams

Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder van die Drakenstein-munisipaliteit, het onlangs onthul dat die munisipaliteit met die provinsiale departement van plaaslike regering onderhandel vir ‘n hoër salaris vir die vakante pos van uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste.

Volgens Leibbrandt het die munisipaliteit ‘n reeks onderhoude gevoer, maar die salaris- aanbod is so laag dat selfs mense op middel-bestuursvlak tans meer verdien.

Die amp is vakant nadat Gerald Esau in Augustus verlede jaar ná ‘n tugverhoor die deur gewys is.

Hy is reeds in Maart verlede jaar geskors, hangende die uitslag van ‘n tugondersoek weens beweerde wangedrag.

Eda Barnard, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsveiligheid, het vir die res van die jaar waargeneem en is gevolg deur David Delaney, wat tans nog waarneem.

Die munisipaliteit het in Maart aan Paarl Post gesê hy hoop om die amp binne die daaropvolgende vier maande te vul.

LEES: Dié senior amp in Drakenstein eers oor 4 maande gevul

“Dit is baie belangrik dat hierdie pos met ‘n permanente werker gevul word. Ons het by ‘n vorige geleentheid verslag gedoen dat die eerste ronde onderhoude gevoer is.

“Slegs twee kandidate het uitgestaan en hulle sal later weer vir verdere besprekings genooi word.

“Ons het met die provinsiale regering vir ‘n beter salarisaanbod onderhandel en hoop om nog in Julie ‘n antwoord te kry,” het Leibbrandt op ‘n raadsvergadering op 27 Junie gesê.

Hy het gesê die pos sal weer adverteer word sodra die “beter salarisaanbod” deur die provinsie goedgekeur word.

“Ons glo dat die salarisaanbod dan baie beter sal lyk om die regte kandidate te lok. Dit is ‘n kritieke pos in die administrasie, wat dus vereis dat ons die geskikste mens aanstel,” het Leibbrandt bygevoeg.

Die werwing vir ‘n nuwe kandidaat sal hopelik iewers in Julie voortgaan.

Die munisipaliteit het in Maart vanjaar gesê dat geen dienste te midde van die vakante pos geraak word nie.

Leibbrandt het ook op die raadsvergadering bevestig dat Seraj Johaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, as die waarnemende munisipale bestuurder vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit aangewys is.

Dit volg nadat Henry Prins op 16 April tydelik geskors is te midde van beweerde onreëlmatige uitbetalings wat glo in die miljoene beloop.

‘n Voorlopige eksterne ondersoek is binne ‘n maand afgehandel en die distriksraad het die bevindings daarvan op 23 Mei van die hand gewys. “Daar is bevind dat die opdrag vir die ondersoek nie ingevolge ‘n vorige raadsbesluit uitgevoer is nie. Die raad verseker inwoners dat ‘n verklaring uitgereik sal word sodra die proses volledig afgehandel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article