Drie karatekas van die Drakenstein – Sebastian Sonnekus (14), Miané Eksteen (13) en hul afrigter, sensei JP van Heerden (30) – het skitterende prestasies by vanjaar se World Union of Karate Do Federations (WUKF)-wêreldkampioenskap in Malmö, Swede, behaal.
Die kampioenskap is van 9 tot 13 Julie aangebied, met die openingseremonie wat op 8 Julie plaasgevind het.
Volgens Elizna Sonnekus, Sebastian se ma, het die drie deelnemers altesaam vier medaljes huis toe gebring – een goud (Sebastian), twee silwer (Van Heerden en Sebastian) en een brons (Eksteen).

Sebastian is die seun van Stefan Sonnekus, die bekende fotograaf, kameraman en redigeerder van die Voetspore-televisiereeks.
Suid-Afrika het vanjaar vir die eerste keer as ‘n span aan die wêreldkampioenskap deelgeneem en die karatekas is gevolglik as deel van die presidensiële span gekies, wat vir hulle presidensiële kleure beteken het. Tydens verlede jaar se kampioenskap in Mexico het hulle slegs individueel meegeding.
Van Heerden is die eienaar van die Boland Dragons-dojo in Wellington en Paarl, waar Sonnekus en Eksteen hul opleiding ontvang. Sonnekus, van Wellington, ontvang tuisonderrig, terwyl Eksteen ‘n gr. 8-leerder aan die Hugenote Hoërskool is.
Volgens Elizna het Sebastian ‘n goue medalje in die kata-afdeling in die 14- tot 15-jarige afdeling verower, asook ‘n silwermedalje in kobudo met ‘n kort wapen, die sai (‘n soort vurk). Hy het verder die vierde plek in kobudo met ‘n lang wapen, die bo (‘n soort stok) behaal.
Van Heerden het ‘n silwermedalje in Kata in die 21-tot-35-jaar-ouderdomsgroep behaal en Eksteen ‘n bronsmedalje – ook in Kata, maar in die groep vir 13-jariges.
Altesaam 1 700 karatekas het aan die kampioenskap deelgeneem, van wie 39 uit Suid-Afrika gekom het. WUKF Suid-Afrika het nege goue medaljes gewen en agtste uit 66 federasies en 33 lande op die algehele ranglys geëindig, onder andere saam met topspanne van Roemenië, die VSA, Frankryk, Italië en Slowakye.

Volgens Elizna was haar seun se deelname moontlik danksy ruim skenkings van familie en vriende, asook finansieringsprojekte wat Sebastian self aangepak het.
Volgens dié trotse ma het al drie deelnemers baie hard geoefen vir hierdie uitstekende uitslae en is sy verskriklik trots op die Boland Dragons-dojo wat soveel sukses behaal het.
Sebastian het deur sy ma laat weet vanjaar se kampioenskap was sy gunsteling tot dusver, aangesien hy die geleentheid gehad het om vir Suid-Afrika mee te ding en sy medaljes met trots by sy Bolandse dojo aan die jonger garde kon wys.
Die drie karatekas begin reeds voorberei vir volgende jaar se wêreldkampioenskap, wat van 22 tot 26 Julie in Roemenië sal plaasvind, luidens die WUKF se webtuiste.





