Die verhouding tussen die Drakenstein-plaaswag (DFW) en die Drakenstein-munisipaliteit wat nou verbrokkel het, kan slegs as ‘n tragedie beskryf word.

Vir jare lank bied die DFW ‘n gratis en vrywillige opgeleide bystanddiens om op verskeie noodgevalle te reageer – van brande tot motorongelukke asook misdaadgevalle, veral in die landelike gebied.

‘n Memorandum van verstandhouding is destyds tussen DFW en die munisipali- teit onderteken, met die ooreenkoms dat DFW hulle sal bystaan in nood. Ongelukkig is daar talle beloftes gemaak wat nooit deur die stadsvaders geëerbiedig is nie.

Nou sal die gemeenskap al hoe minder diens van die DFW ontvang omdat die munisipaliteit weier om hulle as ‘n nooddiens te erken, al is dit duidelik dat die munisipaliteit self nie oor die personeel of toerusting beskik om doeltreffende nooddienste in die groter Drakenstein-gebied te lewer nie.

Die afgelope naweek is hierdie werklikheid bevestig met die noodlottige New Rest-brand wat honderde dakloos gelaat het.

Eerder as om die hulp van die DFW te aanvaar, het die munisipaliteit verkies om hulp van Stellenbosch in te roep. Oënskynlik was hierdie hulp te laat.

Dit is verstommend dat die munisipaliteit sy voete sleep met sulke same- werkingsgeleenthede wat lewensreddend kan wees en net tot voordeel van die gemeenskap sou strek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article