Drakenstein-gemeenskap word gewaarsku teen dié beweerde bedrieër

Eugene Potgieter (30). Foto: True Caller/ Eugene Potgieter


Drakenstein-inwoners word gewaarsku teen Eugene Potgieter, ’n beweerde bedrieër van Bloemfontein wat homself tans in die Paarl bevind.

Volgens sosiale media plasings, op onder meer die geslote Facebook-groep Paarl Pals, stel Potgieter homself voor as ’n elektrisiën wat, onder andere, sonpanele installeer onder die besigheidsnaam E & E Electrical.

Volgens Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, is Potgieter in die Paarl in hegtenis geneem ná ’n uitstaande lasbrief vir sy inhegtenisname op hom beteken is.

Potgieter was toe teruggestuur na Bloemfontein waar hy in aanhouding was en later vrygelaat is op borg.

Hy bevind hom egter tans weer in die Paarl nadat hy, na bewering, in Januarie 2025 vrygelaat is.

Nog ’n foto van Eugene Potgieter. Foto: Verskaf

Dit is volgens Hennie Strauss, ’n inwoner van Bloemfontein wat deur Potgieter bedrieg is.

Strauss beweer dat Potgieter in Desember 2024 in hegtenis geneem is, nadat hy, en ongeveer drie ander inwoners van Bloemfontein sake teen hom geopen het.

Volgens Strauss het hy Potgieter in Junie 2023 genader vir die installering van sonpanele by sy woning en ’n R16 000 deposito betaal, waarna die installasie nooit plaasgevind het nie.

Hy het sy dienste op die Paarl Pals facebook-blad geadverteer, maar die plasing is later verwyder. Skermgreep: Verskaf

Dirk Human, ’n skaapboer buite Bloemfontein het presies dieselfde oorgekom nadat hy vir Potgieter ongeveer R300 000 betaal het vir ’n grootskaalse sonkraginstallasie op sy plaas.

Human het verduidelik dat Potgieter wel met sonpanele opgedaag het, maar dat dit ’n kleiner kilowatt was as waarvoor hy gekwoteer was.

Potgieter het verdwyn voordat die installasie van die sonpanele kon plaasvind.

Beide Strauss en Human het sake teen Potgieter in Bloemfontein geopen.

Volgens hulle verskyn Potgieter weer Maandag (3 Maart) in die landdroshof op die dorp.

Hiérdie gevalle is twee van vele waarvan die Paarl Post kennis dra.

Nader aan die huis het ’n kroeg buite die Paarl ook vir Potgieter wat toe ‘n werknemer was van Pinnacle Solar Solutions in Augustus 2024 in diens geneem vir hulp met, onder andere, die kroeg se sonpanele en kragomsetters, waarna Potgieter nie die werk voltooi het nie.

Die kroeg het ongeveer R40 000 vir hul dienste betaal.

Die Paarl Post het vir Potgieter, asook sy prokureur van LegalAid om kommentaar genader.

Volgens ’n WhatsApp-boodskap vanaf Potgieter se prokureur wat Potgieter ook aan die Paarl Post gestuur het, word Potgieter geadviseer om die koerant te dagvaar vir “laster”.

Geen verdere kommentaar was gegee nie.


REGSTELLING: Die Paarl Post het in die aanlyn weergawe (27 Februarie) en in verlede week se uitgawe (6 Maart) op bladsy ses verkeerdelik berig dat die beweerde bedrieër, Eugene Potgieter, ’n sakevennoot by Pinnacle Solar Solutions was. Potgieter was egter slegs ’n werknemer by die besigheid tot en met November 2024.

Die koerant vra om verskoning vir hierdie fout.

Pinnacle Solar Solutions wil dit duidelik stel dat die besigheid nie betrokke was by Potgieter se beweerde onwettige praktyke nie, en dat hy nie meer in diens geneem is by die besigheid nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article