Die aanlyn aansoekproses vir kinders wat volgende jaar in gr. R moet begin, is tans oop op die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se webtuiste.

Ouers en voogde moet self aanlyn aansoek doen vir hul kinders.

Die WKOD sê dit is presies dieselfde proses wat vroeër vanjaar vir die gr. 1- en gr. 8-aansoeke gevolg is.

Hoewel talle ouers nie daarvan bewus is dat kinders wat in 2025 in gr. R moet begin, se aansoek ook aanlyn gedoen moet word nie, sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die onderwysdepartement, die departement het talle pogings aangewend om ouers hiervan in kennis te stel.

“Die WKOD het voorspraak-veldtogte met betrekking tot die aanlyn inskrywings gehad. Dit is wyd op radio, sosiale media en die gedrukte media versprei. Ons het die aanlyn stelsel sedert 2019 toegepas, dus doen baie ouers dit nou vir die tweede keer, met broers en susters wat reeds deur die stelsel gegaan het.

“Die WKOD-distrikskantore ondersteun ouers wat hulp benodig.

“In die Kaapse Wynland-distrik kan ouers die distrikskantoor in Worcester of die satellietkantoor in die Paarl besoek.”

Hammond voeg by dat ouers ook ’n skool kan vra om hulle te help om aansoekbesonderhede aanlyn op te laai indien hulle nie toegang tot die internet het nie.

“Die WKOD het ’n inbelsentrum by 0861 819 919, waar ouers raad kan kry oor hul aansoek en as hulle enige tegniese uitdagings ervaar.”

Die sluitingsdatum vir gr. R-aansoeke is 16 Augustus.

. Besoek die webtuiste www.wcedonline.westerncape.gov.za/contact/districts vir meer inligting oor die WKOD se distrikskantore en satellietkantore of skakel die onderwysdepartement se inbelsentrum by 0861 819 919.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article