Maart in Wellington het vir my ’n besondere bekoring.
Hierdie jaar kon ek dit vir die 43ste keer geniet – dis hoe lank ek bevoorreg is om in die mooiste vallei in die wêreld te woon; die mooi wat nie deur mensehande geskep is of onderhou word nie. Die bekwaamste landskap-argitek en die grootste kunstenaar ooit het dit in plek gespreek. Hy hou dit steeds in stand en bederf daagliks die (teleurstellende) “kroon van Sy skepping” met die oorvloed van die goeie wat daaruit voortspruit.
Jaarliks is daar die vrug van geseënde aanplantings op geil grond; benat deur water uit suiwer bronne. Die berge skyn groen, en vir dié wat wil kyk en geniet, is daar ’n versteekte mooi van uitsonderlike plant- en dierelewe – sommige só klein dat net iemand met ’n mooi oog en hart dit raaksien. Soos die Groot Boek sê, is alles hier ook op Sy tyd mooi en goed gemaak. Die son sit die seël op dit alles deurdat hy daagliks, op vooraf bepaalde tye, oor die blouste, blouste berge opkom om ná nog ’n nag weer lig te bring. Tydsaam en getrou doen hy sy noodsaaklike, meestal onsigbare werk, vir die beswil van die groen vallei en sy inwoners. Die natuur het nie versteekte agendas of rasse- vóór- of afkeure nie. Dié mooi diskrimineer nie. Die son het werksetiek. Elke dag doen hy sy werk, sonder staking of afname in entoesiasme, totdat hy plekke ruil met die maan en in die weste verdwyn. Dan loop hy die ekstra myl ook, want ná ’n dikwels byna onhoudbare warm dag, is sy totsiens altyd in die mooiste kleure. Om dit vir ons spesiaal te maak, verskil die kleursamestellings van dag tot dag. Ek is oortuig dat selfs Leonardo Da Vinci nie al die verskillende skakerings op sy palet sou kon meng nie.
Die veronderstelling is dat ’n mens sy deel moet doen om die skeppingswerk te komplimenteer en die maksimum voordeel daaruit te kry – nie deur uitbuiting, uitputting, besoedeling, minagting en vernielsugtigheid nie. Dit is nie ’n onmoontlike opdrag of ’n swaar las nie. Ons is in staat om deur stimulasie en instandhouding van die ekologie positiewe bydraes te lewer. Dit gebeur maklik en harmonieus tussen die natuur en die ander suurstof-gebruikers, waar die mens onselfsugtig kundige bydraes lewer, soos dit behoort te wees.
Dis presies net hier, by dié ding – méns – waar alles verkeerd loop. Die Kroondraers, wat bedoel is om die mooi van die skepping nog verder te vat deur die korrekte aardse wandel, misluk daagliks in hul roeping.
Hierdie Maart het weer nie teleurgestel nie. Wat wel anders was, het niks te make met menslike insette nie, en dit is dat my mooiste maand op ’n onbekende nat en stormagtige noot gegroet het. Dit is nie sleg vir my nie. Wat wel sleg is, is die duidelik waarneembare patroonmatigheid in die toename van kriminaliteit, wat ek die afgelope twintig Maart-maande hier en in die res van die land sien gebeur. Toename in intensiteit van geweld, veral teenoor vroue en kinders, is onverteerbaar vir regskapenes. Duidelik is daar nie ’n stopteken op die pad van die skurke, skelms, skakers, stakers en slenteraars nie (laasgenoemde is eintlik net ’n versameling luiaards). Mense wat “werk afkeurig” is, maar baie fluks werk – en versot toevoeg – aan nog duisende kinders by die reeds miljoene, wat van meet af aan reeds wrakke van mense is.
Eintlik wou ek kyk na die goeie wat mense tog jaarliks tot die mooi van die maand voeg. Die jaarlikse Wêreldbiddag vir Vroue is gewis saai van goeie saad wat goeie vrugte voortbring, soos Menseregtedag en Wêreldwaterdag ook – hier waar nul respek vir beide is. Die gekheid is vanjaar oorskadu deur die aanstelling van ’n wonderwerk-minister vir elektrisiteit en die groter parlement.
Wat ’n lekker toevoeging was die sogenaamde suksesvolle “Shut Down” van “mister Dalema” en die intelligentsia van sy lakeie; ook die spul wat in hegtenis geneem is vir hulle verwoestingstog. Lekker vir my om te wens dat hul vakansie op ons belastingbetalers se rekening besonder sleg is. Vir die hoogheiliges wat sê ek is aaklig – goed so. In jul diepste denke voel julle dieselfde as ek en ander, maar probeer tog so polities korrek wees. Voorspoed.
Ek hoop die vibrasies van my juig oor die groot en klein vreugdes wat ek hierdie Maart beleef het, sal ’n bydrae lewer om die negatiewe, wat daagliks losgelaat word, af te breek. Ons is ’n integrale deel van die groot heelal en onlosmaaklik deel van die enorme onsienlikheid rondom ons. Daarom bepaal ons optrede, selfs in die klein kring rondom ons, nie net vir nou nie, maar vir geslagte in wording, hoedat dit gaan wees.
Mag Jentezen Franklin se gesegde “Every deed has a seed” mense laat dink voordat hulle doen.




