Werk die polisiekantoor in jou dorp se telefoonlyne nie, of is daar nie ‘n polisievoertuig beskikbaar om ‘n toneel te bereik nie? Is daar dalk ‘n klagte teen die polisiekantoor? Dit is sommige van die uitdagings waarvoor ‘n gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ‘n oplossing kan bied.
Paarl Post het met ‘n paar kenners gesels om te verstaan waarom GPF’s so ‘n belangrike rol in die gemeenskap vervul.
Volgens ‘n artikel deur Kris Pillay, “Demokrasering van die Suid-Afrikaanse polisiediens: Die rol van gemeenskapspolisiëringsforums” in die Suid-Afrikaanse joernaal vir kriminologie en viktimologie (1998), is GPF’s in 1993 gestig en verpligtend gemaak.
“GPF’s poog om aktiewe vennootskappe tussen die polisie en die gemeenskap op plaaslike vlak te vestig, waardeur misdaad, dienslewering en gemeenskap-polisieverhoudinge geanaliseer en die nodige oplossings geformuleer en geïmplementeer kan word,” skryf Pillay.
Jarque Jacobs, voorsitter van Wellington se GPF, sê die stigting van ‘n GPF is noodsaaklik omdat dit die kommunikasie tussen die publiek en die polisie aanmoedig en verbeter.
Erica de Villiers, woordvoerder van die Klapmuts Farm Watch, ondervoorsitter van die Klapmuts GPF en tesourier van die Stellenbosch GPF, ondersteun die standpunt. Sy voeg by dat ‘n GPF ook dien as ‘n platform waar die gemeenskap verdagte optredes of voorvalle kan aanmeld, veral wanneer pogings om die polisie direk te bereik, misluk. Die GPF tree dan op deur die polisie te kontak.
Volgens De Villiers maak ‘n verhouding tussen die plaaslike polisie en die GPF ook ander verhoudinge met die polisie moontlik. ‘n Praktiese voorbeeld is die Klapmuts-polisie wat vir ‘n tyd lank probleme met hul landlyn gehad het. ‘n Selfoonskenking aan die GPF, wat aan die polisiekantoor oorhandig is, het die kommunikasie tussen die publiek en die polisie aansienlik verbeter. Indien daar weer probleme met die landlyn is, kan die publiek die Klapmuts-polisie by 074 021 1434 skakel.
Theunis Fick, die eienaar van Cyclops Security in die Paarl, sê dat ‘n GPF as ‘n “force multiplyer” vir ‘n polisiekantoor optree omdat die organisasie gestig is om die polisiekantoor te ondersteun.
Hierdie ondersteuning manifesteer op verskeie maniere, veral deur verbeterde kommunikasie met die publiek. Terugvoering deur die GPF word aan die polisie gegee, wat saam met die GPF werk om oplossings te ontwikkel en ‘n beter begrip van misdaadpatrone in sekere gebiede te verkry, asook om misdaad te voorkom. Die GPF verseker ook indirek dat die gemeenskap nie vertroue in die polisie verloor nie en help om dienslewering te handhaaf.
Volgens Jacobs word ‘n nuwe GPF elke vyf jaar verkies en kan slegs lede van die publiek wat op die GPF se databasis geregistreer is, stem. ‘n Maksimum van twee mense per organisasie word toegelaat om te stem.
Hy voeg by dat maandelikse vergaderings met die publiek gehou moet word om onder meer misdaadtendense te bespreek.





