Klein Nederburg Senior Sekondêr (KN) het Saterdagmiddag (8 Augustus) vir ‘n derde opeenvolgende keer hul stempel op New Orleans Sekondêre Skool (Noss) afgedruk, toe hulle weer die jaarlikse derby wen.
Alhoewel Noss die wedstryd vinnig met ‘n strafskop geopen het, het KN vanaf die aanspoor gedomineer. KN het die eerste drie van die wedstryd in die sewe en twintigste minuut aangeteken toe Carlton Crause die bal agter die pale plant. Die skool het daarin geslaag om die drie te verdoel.
Noss het kort daarna ‘n strafskop gekry, maar Teswill Coetzee het egter misluk om die bal oor die pale te stuur.
Teen rustyd was die telling 7 teenoor 3 in die guns van KN.
Carlton het net na rustyd sy tweede drie aangeteken en Mario Abner het weer daarin geslaag om die drie te verdoel. In die 45ste minuut het KN 14 teenoor die 3 punte van Noss gehad.
Kort daarna het KN se Aurlin Thomas die bal agter die pale geplant, hierdie keer het hulle egter daarin misluk om die drie te verdoel, wat die telling na 19 teenoor 3 gebring het
In die tweede helfte het Noss egter probeer om momentum te verkry. Ubayd Adams het in die 54ste minuut vyf punte vir Noss op die telbord gesit, maar die skool kon nie daarin slaag om die drie te verdoel nie.
Bykans vier minute later het Oswald Smith ook ‘n drie vir Noss gedruk, die skool se poging tot ‘n omskakeling was weereens onsuksesvol, dit het die telling na 19 teenoor 13 in die guns van KN gebring.
Maar daar was hoop, nog bykans tien minute voordat die wedstryd geëindig het was daar steeds hoop vir Noss. In die 66ste minuut was hulle voor die pale, maar kon egter nie daarin slaag om die bal oor die lyn te plaas nie.
Die telling het regdeur die tweede helfte onveranderd gebly, en die beker het vir ‘n derde opeenvolgende jaar sy tuiste in die kas van KN gevind.
Hierdie is die 11de teenoor die 19 keer wat Noss die derby oor die derby gewen het.

Stephen Korabie, die uitvoerende burgermeester van Drakenstein, het die wedstryd bygewoon. Korabie het die geleentheid beskryf as ‘n dag waarvoor daar baie hard gesweet en geoefen is.
Mason Davids, hoofafrigter en rugby-sameroeper van KN, sê die derde agtereenvolgende derby-oorwinning beteken baie vir die skoolgemeenskap.
Davids sê Noss het deur week die oorhand in die meeste van die sportkodes gehad, so hulle het geweet oorwinning gaan nie maklik wees nie, maar beslis moontlik.
“Ons is gelukkig en bevoorreg om die derby nou vir ’n derde jaar in ’n ry te wen. Die seuns werk baie hard en dit is slegs ’n beloning vir harde werk, jaar na jaar.”

Davids sê KN het ná Covid ’n plan ingestel om die skool se rugby te verbeter en volhoubaar te ontwikkel. Volgens hom het dié verbeterings vanaf 2024 in die uitslae begin wys.
“Ons het twee woorde deel gemaak van die journey: ‘Omgee en Ownership’.”
Davids sê die span het vanjaar met talle jong spelers vorendag gekom nadat verskeie senior spelers van die span wat die vorige 40-17-oorwinning behaal het, vertrek het.
“Gister was ’n bewys dat as jy omgee vir jouself, vir die span en vir jou skool, die resultaat vir homself sal sorg.”
Carlyn Oppelt, Noss se hoof sê die nederlaag is teleurstellend, maar daar is steeds baie waarop die skool trots kan wees. Sy sê alhoewel KN die algehele derby-trofee ingepalm het, het Noss vanjaar sokker, netbal en die oudstudente gewen.
“Ons speel om te wen, en ons spelers, afrigters, personeel en ondersteuners het alles gegee.”
Noss het hierdie jaar gasheer gespeel en volgens Oppelt verg die aanbieding van die derby maande se beplanning en die ondersteuning van personeel, die beheerliggaam, ouers, borge en die gemeenskap. Sy sê die groot opkoms vanjaar wys hoe belangrik die Derby steeds vir die Paarl is.
Oppelt sê Noss moet nou kyk waar daar ruimte vir verbetering is en uit die ervaring leer. Sy sê die derby se tradisie moet terselfdertyd beskerm word deur die geleentheid volhoubaar en professioneel aan te bied.
“Ons het verloor, maar ons is nie verslaan nie. Ons sal terugkom. Ons sal leer. Ons sal verbeter.”





You must be logged in to post a comment.