Damvlakke oor groot dele van die Wes-Kaap het die afgelope week skerp gedaal en in sommige gevalle is die vlak byna die helfte van wat dit verlede jaar was.
Teen Maandag het die vlak van die Voëlvleidam van 51,6% tot 49,7%, teenoor verlede jaar se vlak van 84,3% gedaal.
Ook die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het van 61,5% tot 59,8% teenoor 90,5% ’n jaar gelede gedaal.
Die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak het van 57,7% tot 56,2% – teenoor verlede jaar hierdie tyd se 72,4% – gedaal.
Die verwagte reën wat voorspel is vir Dinsdag het ook nie veel verligting gebring nie en die kwik begin weer skerp styg, met ’n verwagte maksimum van 35 °C vandag vir beide Paarl en Wellington voorspel.
Die vlak van ander damme wat water aan Kaapstad verskaf, is soos volg:
. Benede-Steenbrasdam: 63,1% (66% verlede week);
. Bo-Steenbrasdam: 93,7% (93,7%);
. Voëlvleidam: 49,7% (51,6%);
. Bergrivierdam: 80,1% (81,8%); en
. Wemmershoekdam: 77,6% (79,4%).





