Die watervlakke in damme in die Wes-Kaap het die afgelope week verder gedaal, en nog uiters warm en winderige weer word voorspel.
Kaapstadse damme se gemiddelde watervlak het van 76,3% verlede week tot 75,1% gister gedaal. Dit is in vergelyking met die 98% wat dit in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gemeet is.
Wes-Kaapse damme se gemiddelde watervlak het van 65,9% tot 64,3% teenoor 80,7% in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gedaal.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor ’n uiters hoë brandgevaar, uiters warm weer en ongemaklike toestande wat vandeesweek op plekke kan voorkom.
Hoewel watervoorsiening vir die Drakenstein-gebied redelik goed lyk, staar Worcester, net anderkant die Dutoitskloofberg, waterbeperkings in die gesig.
Die Breedevallei-munisipaliteit het aangekondig dat vlak een-waterbeperkings in die Worcester-omgewing geld, terwyl die gemeenskap van De Doorns vlak twee-waterbeperkings moet trotseer.
Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het die afgelope week van 73,6% tot 72,3% afgeneem en was ’n jaar gelede op 99,4%.
Die vlakke van ander damme wat water aan Kaapstad verskaf, is (verlede jaar in hakies):
Voëlvleidam: 61,3% (62,6%);
Bergrivierdam: 92% (93,1%)
Wemmershoekdam: 86% (86,4%).





