Die moderne tyd waarin ons leef, bring met hom saam baie nuwe positiewe moontlikhede en geleenthede. Jy sou dink dat die mensdom sal aanpas by die tye, maar dit blyk nie heeltemal so te wees nie. Dit voel juis asof mense nou meer as tevore hul medemens links en regs veroordeel.
Almal is deesdae soos ’n juffrou Rottenmeier, wat jou doen en late met ’n rooi pen reg of verkeerd merk en nie huiwer of skroom om hul mening daaroor die wêreld in te stuur nie.
Swem jy saam met die visse stroomaf, kan jy nie vir jouself dink nie; swem jy stroomop, wil jy altyd anders wees!
Kan jy ooit wen, wanneer die oë van die juffrou Rottenmeiers van die lewe op jou is?
Die herrie rondom die vroue wat deelneem aan die Real Housewifes van die Wynlande wat steeds oral bespreek word, het my weer laat besef hoe maklik dit is om ander te oordeel wanneer hulle nie dink en doen soos jy sal nie, of wanneer hulle iets doen wat heeltemal buite jou gemaksone is en waaraan jy nie gewoond is nie.
Plaaslik het die werklikheidsreeks ook omtrent die tonge los gehad. Almal het iets te sê gehad oor die vroue en hul uitlatings en dalk stem ek nie saam met al die aanmerkings wat van die vroue maak nie, maar stem ek ook nie saam met die oordeel en die lelike aanmerkings teenoor hulle nie.
Kyk, sekere mense dink deesdae al hoe meer dat sosiale media hulle die reg of die mag gee om ander sleg te sê in die naam van “vryheid van spraak” of die verskoning dat “wanneer jy jouself in die openbare oog plaas, moet jy kritiek verwag en kan hanteer” en dat jy jouself basies daaraan blootstel.
Wel, dit is eintlik niks anders as ongeskikte maniere nie. Dit sê eintlik baie meer van jou as mens wanneer jy dink dit is oukei om iemand so sleg te sê sonder om te blik of te bloos.
Dit is nie vryheid van spraak nie – jou woorde maak iemand seer en dit kan erge emosionele skade aanrig.
’n Ruk gelede was daar die veldtog op televisie waarin akteurs die boodskap probeer oordra het dat die publiek se kommentaar oor hulle diep sny en seermaak. Die een akteur het gevra of mense ook so lelik van haar op sosiale media sou praat sou hulle haar persoonlik geken het.
Plaas jouself net in iemand anders se skoene en vra jouself af hoe jy sou voel as iemand veral op sosiale media so oor jou praat.
Byna elke tweede inskrywing op Facebook-groepe waar iemand hulp, raad of net ’n gewone vraag vra eindig met die woorde “geen lelike kommentaar asseblief”.
Is dit nie hartseer dat ons in ’n samelewing woon waar jy bang moet wees om iets te vra nie?
Die gesegde “as jy niks goeds het om van iemand te sê nie, moet jy liewer niks sê nie” – is dit nie iets waaroor ons moet nadink nie?
Dit is my beskeie mening dat sosiale media in verkeerde hande baie meer skade kan aanrig as wat ons wil erken, want sosiale media is glad nie meer net ’n sosiale platform waarop almal hul mooi oomblikke deel nie. Dit het vir aanlyn-boelies ’n stem gegee en ongelukkig laat die samelewing self daardie boelie-stemme toe om te floreer.
Daarmee saam is die land se ekonomie onder druk, ons gaan gebuk onder beurtkrag en die kostes van byna als styg. Kan ons geduld teenoor ons medemens nie ook meer word nie? Kan ons respek vir mekaar nie ook styg nie?
Ons moenie toelaat dat die dinge van die wêreld ons as mens só onder druk plaas dat ons eerder as om ons naaste op te bou en te help om hoogtes te bereik, hulle eerder afbreek nie.
Daar is plek in ons dorp om mense se verskillende persoonlikhede, hul verskillende belangstellings en opinies te respekteer. Niemand sê jy moet daarmee saamstem nie, niemand sê verruil jou opinie of belangstellings vir dié van ander nie. Ons is almal uniek.
Die inwoners van ons dorp het ’n omgee-kultuur ook. Dit laat ’n mens se hart warm klop as jy sien hoe die inwoners ten spyte van baie uitdagings uitreik na ander en dit is wat die jonger generasie moet sien. Dit is die blootstelling wat hulle moet kry – een van omgee, geduld en liefde vir jou medemens.
Daar word dikwels gesê dat die jeug die leiers van môre is, maar dit is ons as volwassenes se verantwoordelikheid om ’n voorbeeld vir die jeug te wees, ’n voorbeeld wat sal sorg dat ons land vir generasies en generasies wat kom in bekwame hande sal wees – hande wat oop is, nie net om te ontvang nie, maar eerder te gee.




