Paarl se nuutste MK-lid en voormalige Springbokrugby-afrigter en GOOD-partylid, Peter de Villiers (67), het gister weer in die streekshof in Malmesbury verskyn, waar Brett Herron, sekretaris-generaal van die GOOD-party, as staatsgetuie teen De Villiers opgetree het.
De Villiers staar tans drie aanklagte in die gesig, waaronder poging om ‘n seksuele misdryf te pleeg, seksuele aanranding en crimen injuria. Hy het in ‘n vorige hofverskyning op 24 Maart onskuldig gepleit op die klagtes.
De Villiers word daarvan beskuldig dat hy ‘n lid van die GOOD-party, Patricia Lopez, in haar huis buite Malmesbury in Kalbaskraal op 30 Januarie 2023 seksueel aangerand het deur haar te probeer soen en op ‘n bed in haar huis vas te pen.

De Villiers en Lopez het tydens die voorval saam gewerk aan ‘n verkiesingsveldtog vir die GOOD-party in Grabouw. Lopez was die administrateur hiervan en De Villiers die bestuurder.
Herron se getuienis
Herron het tydens gister se hofverrigtinge getuig dat hy ‘n dag tevore vir die klaagster gebel het oor die verkiesingsveldtogvergadering wat sy aanlyn sou bywoon. Dit was die laaste keer wat hy met die klaagster in verbinding was vóór die beweerde seksuele aanranding teen haar plaasgevind het.
Op 30 Januarie, na die vermeende voorval, het Lopez vir Herron baie “ontsteld” gebel en gesê “iets verskrikliks het gebeur”.
Volgens Herron was sy emosioneel en tranerig. Hy het vir haar gesê dat hulle die volgende dag in Herron se kantoor by die Parlement kan vergader.
Herron het verder gesê dat hy nie vir die klaagster gevra het hoekom sy ontsteld was nie.
Toe Herron die volgende dag (31 Januarie) omstreeks 10:00 by sy kantoor aankom, was Lopez reeds daar met ‘n verband oor haar linkerhand en -voorarm. Hy het gesê toe hy haar vroeër daardie jaar gesien het, het sy nie ‘n verband gedra nie.
Volgens Herron het sy vir hom vertel dat sy nie vir De Villiers toestemming gegee het om haar huis te besoek nie.
Volgens ‘n vorige berig deur die Paarl Post het De Villiers Lopez gebel om GOOD-party-dokumente af te laai rakende die tussenverkiesing in die Theewaterskloof-munisipaliteit. Die dokumente het glo uiteengesit wie betaal moes word wat die verkiesing betref.
Hiervolgens het Lopez gevra dat De Villiers eerder hierdie dokumente na ‘n vergadering moes bring, in plaas daarvan om dit by haar huis af te laai.

De Villiers het egter vir haar gebel en gesê dat hy op pad na haar was. Met sy aankoms het sy hom wel in haar huis ingenooi.
Herron het verder getuig dat Lopez vir die beskuldigde ingenooi het vir ‘n “koffie” en dat hy in die tuin gesit het terwyl Lopez op haar rekenaar in die huis gewerk het.
Herron het verder getuig dat die klaagster De Villiers wou groet nadat hulle na haar voordeur gestap het. De Villiers het nabewering toe vir haar gesê: “Daar is ‘n leemte in jou lewe, en ek dink ek moet jou soen.”
Volgens hom het die klaagster aan hom genoem dat De Villiers haar toe wel gesoen het.
Die klaagster se man het ten tyde van die gebeurtenis oorsee gewerk, het die Paarl Post vroeër berig.
De Villiers het toe vir die klaagster “gegryp”, na haar slaapkamer gestoot, waarna hy bo-op haar op haar bed gesit het. Sy kon hom na ‘n “gestoei” afkry, het Herron getuig.
Lopez het hierna ‘n saak by die Malmesbury-polisie geopen.
Nadat die klaagster vir Herron oor die gebeure ingelig het, het hy Patricia de Lille, leier van die GOOD-party, hiervan in kennis gestel. De Lille het vlugtig met die klaagster gepraat.
Herron het getuig dat hy en De Lille vir De Villiers gekontak het en vir hom gevra om Herron die volgende dag in sy kantoor te ontmoet.
Tydens hiérdie vergadering het Herron ‘n skorsingsbrief aan De Villiers oorhandig waarna hy gesê het hy wil “konteks gee” oor wat gebeur het. Herron het geantwoord dat “dit nie nodig is nie,” maar De Villiers het blykbaar daarop aangedring.
De Villiers het toe gesê Lopez is ‘n “moeilike mens” en “baklei altyd” met ander mense in die party. Hy het toe ook gesê dat hy vir die klaagster gesê het “ek dink ek moet jou soen”.
Volgens Herron het De Villiers se kommentaar hom bygeval, want hy het nêrens in die brief die klaagster se naam genoem nie, maar De Villiers het egter geweet na wie hy verwys.
Herron het die rede vir De Villiers se skorsing aangegee as onder andere dat hy die party se konstitusie oortree het weens seksuele wangedrag. Hy het ook getuig dat die leier van die GOOD-party, volgens hul konstitusie, in sommige omstandighede hul outoriteit kan gebruik om lede dadelik te skors — iets wat De Lille toe wel gedoen het vir ‘n tweede keer in die party se geskiedenis.
Volgens Herron het De Villiers, “in sy opinie”, Lopez se weergawe van gebeure aan hom gestaaf.
Herron het ook gesê dat die beskuldigde se besoek aan die klaagster se huis “onnodig” was omdat hulle mekaar “in elk geval” binnekort in Grabouw sou sien.
Die regter het hom toe gevra of dit sy opinie is, waarna hy “ja” gesê het.
De Villiers se verweer
Hennie le Roux, die beskuldigde se prokureur, het tydens die hofverrigtinge teenstrydighede in Herron se verklaring aan die polisie en tydens sy getuienis uitgewys.
Herron het toe geantwoord dat hy nie “alles kan onthou” wat hy in sy verklaring gesê het nie, en dat die verdediging ook moet onthou dat die polisie die verklaring geskryf het, en moontlik sommige inligting wat deur Herron verskaf is, uitgelaat het.
Le Roux het hierdie stelling verder bevraagteken en gesê dat Herron ‘n kans gehad het om die verklaring te lees voordat dit ingedien was, waarna Herron geantwoord het dat hy slegs vlugtig daardeur gelees het, en nie alles wat geskryf is raakgesien of onthou het nie.
Nog ‘n punt waarop Le Roux vir Herron gehammer het, sluit in dat hy nie met sekerheid kon sê dat die klaagster ‘n verband op haar linkerhand en -voorarm gedra het nie, en dat dit ook nie in die polisie se verklaring staan nie.
Die saak is uitgestel tot 14 Julie waar kapt. Logan Chetty, die ondersoekbeampte, as staatsgetuie sal verskyn.






You must be logged in to post a comment.