Die vallei is bekend met vernietigende brande wat veral in die informele woongebiede gereeld verwoesting saai, maar brandbestryders veg teen meer as net rooi vlamme in dié stryd.
Paarl Post het verlede week berig oor ’n brand wat Saterdagaand (13 Mei) minstens agt strukture verwoes en 32 inwoners in Chicago, Paarl-Oos op Moedersdag dakloos gelaat het.
In Drakenstein-munisipaliteit se terugvoer het die direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, bevestig dat ’n voorval waartydens ’n vroulike brandbestryder “geval het” en beseer is, ondersoek word.
Brandbestryders word kwaadwillig beseer
Ná publikasie van dié storie het ’n anonieme bron egter navore gekom en aan Paarl Post vertel dat die beseerde brandbestryder nie per ongeluk geval het nie, maar dat die brandbestryder inteendeel kwaadwillig op die toneel “aangeval is”.
“Daar word nie genoem dat sy geval het omdat aggressiewe lede van die publiek haar moedswillig ge-trip het sodat sy val nie. Nóg dat sy op die grond met ’n plank aangeval en op die pols geslaan is, nóg dat sy daarna met veelvuldige breuke in haar pols steeds ongeveer 20 minute gehelp het om die brand te bestry. Dit net om te verseker dat nie méér mense se eiendom afbrand nie.”
Die bron sê dat die aanval gebeur het nadat die bevelvoerder drie keer aan die skare moes verduidelik dat eiendom wat reeds afgebrand het nie meer gered kan word nie, en dat aandag eerder gegee word aan dit wat nog te redde is.
“Daar word ook nie genoem dat twee polisiemanne langs die pomp gestaan en kyk het hoe brandbestryders aangeval word nie.”
Ricardo Cant, ’n vrywillige brandbestryder en paramedikus van Drakenstein-plaaswag (DFW), was ook dié nag op die toneel om die beseerde brandbestryder te behandel.
Hy skryf die geweldige opstandigheid van benoude inwoners toe aan ’n gebrek aan bewusmaking en genoegsame hulpbronne.
“Inwoners sien hoe hul besittings voor hulle verwoes word – en soms word dié bittermin besittings wat sommiges wel uit brandende wonings red ook nog deur hul buurman langs die pad gesteel. ’n Mens verstaan hul benoudheid, maar inwoners moet ook verstaan met só ’n tekort aan hulpbronne moet ongedeerde strukture of geboue geprioritiseer en beskerm word.
“Daar is vir seker ’n groot nood aan opvoeding oor die dinamika van brandbestryding en dit wat te redde is,” verduidelik Cant.
Rooi-sones word oorweeg
In reaksie op verdere navrae oor die voorval wat gelei het tot die brandbestryder se beserings, sê Esau die Drakenstein-munisipaliteit “veroordeel enige aanvalle op ons personeel, insluitend ons brand-bestryders, ten sterkste, veral omdat brandbestryders baiekeer lewens-gevaarlike omstandighede moet trotseer om mense, hul eiendomme en persoonlike besittings te beveilig. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat hul lewens verder in gevaar gestel word en dat hulle verhinder word om hul werk te doen.”
Die munisipaliteit oorweeg om eersdaags ’n item voor die munisipale raad te laat dien waarvolgens rooi-sones (areas wat bloot te gevaarlik vir brandbestryders is om sonder polisie-begeleiding te betree) geïdentifiseer en gehandhaaf sal word.
“Dit sou kon beteken dat die brandweerdienste later by tonele gaan opdaag. Die munisipaliteit het egter ’n plig om ons werknemers te beskerm.”
Hy noem ook dat dié betrokke voorval in Chicago by die Paarl-Oos-polisie aangemeld is en tans ondersoek word.
Die anonieme bron wat meer insig oor die voorval met Paarl Post gedeel het, het egter Dinsdag laat weet dat die slagoffer via SMS-kennisgewing ingelig is dat die senior openbare aanklaer by Paarl-landdroshof die saak van die hofrol geskrap het, en dat die ondersoekdossier ingevolge dié besluit gesluit is.
Medianavrae aan Paarl-Oos-polisie is nie teen druktyd beantwoord nie.
Esau wys verder daarop dat hul brandweerdienste nou saam met die polisie en die wetstoepassingsafdeling werk om orde en veiligheid te probeer verseker.
“Die lede van die gemeenskap bly egter ons grootste vennote in die hantering van sulke situasies. Dit is waarom ons brandweerdienste deurlopend besig is met bewusmakingsprojekte van die publiek en by skole, juis om ’n verhouding met die gemeenskap te bou. Ons raadslede is aktief hierby betrokke.”
Tog noem die betrokke nooddienswerkers wat kommentaar oor dié kwessies lewer dat wyksraadslede en polisiemanne op die grond meer betrokke moet raak om insiggewende kommunikasie oor bestrydingstaktieke op tonele teenoor oproerige inwoners te handhaaf.
Brande moet blitsvinnig aangemeld word
Esau het wel met vorige terugvoering daarop gewys dat tydens sommige brande, soos ’n geval waar twee brande tegelyke tyd gedurende April in Kanariestraat, Chicago, uitgebars het, “was daar wel mense wat oproerig was, en dit het verband gehou met inwoners wat baie angstig was oor hul verliese”.
Die bevelvoerder van die DFW, Daan van Leeuwen Boomkamp, het dié geneigdheid tot oproerigheid bevestig.
“Dit blyk dat hierdie voorvalle gebeur wanneer [brandweerdienste] te laat ontbied word, soos in [die geval van 13 Mei] toe die brand reeds gewoed het en die munisipale brandweer daarmee besig was. Ons het toe ’n oproep van omstanders ontvang dat die brand vir hulle in daardie stadium te ver gevorderd was om alleen te hanteer,” sê Boomkamp.
Esau beklemtoon dieselfde kwessies.
“As brandweerdienste is ons grootste uitdaging die aanmelding van voorvalle. Ons vind dat die algemene publiek nie weet hoe om ’n noodgeval aan te meld nie of hulle ken nie die noodnommer (021 872 2323) nie. Baie mense meld voorvalle op sosiale media aan – dit is nie die gepaste roete nie.”
Nog ’n verdere uitdaging, voeg Esau by, is dat mense dink iemand anders het reeds die brandweerdienste geskakel – met die gevolg dat niemand die nooddienste ooit kontak nie.
“Brande maak mense uiters angstig en ons word dikwels hiermee gekonfronteer. Partykeer probeer die huiseienaars of omstanders ook self om die probleem aan te pak. Wanneer hulle besef hulle kom nie die mas op nie, dan eers word die nooddienste gekontak om hulp te verleen.”
Die publiek word aangemoedig om in alle omstandighede so vinnig as moontlik die brandweerdienste – ongeag die grootte van die brand – aan te meld.
“Dit is waarom ons gereeld inligtingsessies vir die publiek aanbied oor hoe hulle hulself kan beskerm en met ons in verbinding kan tree . . . Vir ons is bewusmaking en samewerking tussen die publiek en die brandweerdienste van kardinale belang. Veral kommunikasie speel ’n baie groot rol in die hantering van brande en enige noodgeval wat mag ontstaan.”





