Die Wes-Kaap steier vanjaar behoorlik onder berg- en veldbrande. Credit: Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit

Die Wes-Kaap beleef ‘n volgehoue brandseisoen, met 32 187 ha grond wat van Oktober 2024 tot einde Februarie 2025 afgebrand het.

CapeNature bestuurde reservate is die swaarste getref, met byna 19 000 ha wat beskadig is, terwyl private grond en bergopvanggebiede ook groot skade gely het.

Die brande in die Bolandse bergreeks was die mees verwoestende, met Limietberg- natuurreservaat en Hottentots-Holland-natuurreservaat wat besonder swaar getref is. Hierdie twee reservate het saam 25 brande ervaar.

‘n Brand in die Hottentots-Holland-gebied het die Nuweberg-gemeenskapsaal vernietig, en ‘n ondersoek na die oorsaak van die brand is aan die gang. Die Swartberg- beskermde gebied het die ergste deurgeloop, met 15 545 ha wat afgebrand het, insluitend 12 359 ha onder CapeNature se bestuur.

Sedert April 2024 is 78 brande aangeteken, en noodspanne het vlamme in van die provinsie se ekologies sensitiefste gebiede beveg. Hoewel CapeNature al meer brande as in die 2023-’24-brandseisoen moes hanteer, het die aantal hektaar wat afgebrand het, gedaal. Verlede jaar het 78 000 ha afgebrand.

Tot dusver het CapeNature meer as R12 miljoen aan die bekamping en voorkoming van brande bestee.

Sommige brande is aan natuurlike oorsake toegeskryf, terwyl ander veroorsaak is deur menslike aktiwiteite, insluitend ongelukke in plantasiegebiede en beheerde brande wat buite beheer geraak het.

Verhoogde openbare bewustheid en die nakoming van brandveiligheidsregulasies is van kritieke belang, veral gedurende die droë somermaande wanneer die brandgevaar op sy hoogste is.

Die Wes-Kaapse Minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het beklemtoon: “Inwoners en besoekers aan provinsiale reservate moet waaksaam bly en enige tekens van brand onmiddellik aanmeld.

“CapeNature werk aan langtermynstrategieë om brandbestuur te verbeter, wat brandstofvermindering en gemeenskapsonderrig insluit.”

Bredell het bygevoeg dat brandbestrydingspanne van CapeNature, distriksmunisipaliteite, die Volunteer Wildfire Services, private grondeienaars en ander belanghebbendes in die voorste linies van brandonderdrukking staan.

“Hierdie spanne werk onvermoeid om die vlamme te bestry – dikwels in uitdagende terrein en in uiterste weersomstandighede.”

Die Wes-Kaap se unieke biodiversiteit, insluitend sy fynbos-ekostelsels, is besonder vatbaar vir brandskade.

Hoewel vuur ‘n natuurlike deel van hierdie ekostelsels is, hou die toenemende frekwensie en intensiteit van brande ‘n beduidende bedreiging vir die omgewing en plaaslike gemeenskappe in.

Vir eers bly die fokus op die beperking en voorkoming van brande, aangesien die provinsie voorberei vir moontlike verdere brande in Maart en April.

Vyf nuwe brande is reeds vandeesmaand aangemeld en langtermynvoorspellings dui op min reënval en relatief hoë temperature.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article