Lionel Cornelius, ’n assistent-afrigter van die Boland Kavaliers, is Sondagoggend aan ’n hartaanval op die Bredasdorp-gholfbaan dood.

Lionel (36) het volgens sy vrou, Louine (33), tydens beurtkrag gaan gholf speel om die tyd om te kry.

“Dit is eintlik nog so onwerklik. Hy is Sondagoggend in ’n vrolike luim die huis uit. Hy was nie siek nie,” sê Louine, wat om 10:45 die nuus gekry het.

Cornelius het in 2014 tydens ’n rugbywedstryd ook ’n hartaanval gehad, sê Louine, ’n gr. 4-onderwyseres aan De Heide Primary School in Bredasdorp.

“Hy het dit egter nie besef nie en aanhou speel. ’n Gedeelte van sy hart het seergekry.”

Cornelius sou Sondagmiddag weer Wellington toe ry om sy pligte by Boland Rugby voort te sit. Hy het in die week in Wellington gebly en naweke huis toe gegaan.

Louine en haar pa is na die gholfbaan toe, waar hulle deur ’n bakkie voorgekeer is wat met Cornelius op pad na die Otto du Plessis-hospitaal toe was. Daar was glo nie ambulanse beskikbaar nie.

Toe hulle by die hospitaal kom, het sy haar man se hand gedruk, maar geen reaksie gekry nie.

“Ons het altyd mekaar se hande gedruk. Dit was soos ’n teken. Toe ek sy hand druk, het hy nie teruggedruk nie. Ek het gehoop ek is verkeerd, maar geweet hy is nie meer met ons nie,” sê Louine.

Cornelius is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die egpaar was agt jaar getroud en het twee kinders, Nahum (7) en Micah (3).

Louine sê haar man het diep spore in ander se lewe gelaat en wou altyd seker maak almal is oukei.

“Ná sy eerste hartaanval was sy woorde: ‘Ek is jammer.’ Hy wou net jammer sê omdat hy ons daardeur moes sit.”

Cornelius het geleef vir rugby en ná die eerste hartaanval besluit hy wil ’n afrigter word. Sy droom was om teen 2031 die Springbokke se assistent-afrigter te wees.

Louine sê sy het ’n kalmte oor haar.

“Ek huil by tye en dan skielik is my gesig kurkdroog. Ek dink die kalmte is daar omdat ek weet Lionel sou wou hê ek moet orraait wees.”

Die Boland-rugbyunie het op Facebook hulde gebring aan Cornelius wat ’n aanvalsafrigter by die Boland Rugby-unie en die Boland Kavaliers was.

“Hy het puik werk gedoen en almal by die unie sal hom mis. Lionel, jou wedloop is voltooi. Tot ons weer ontmoet.”

Die Bredasdorp Health and Fitness-sentrum skryf hy het ’n omgeehart en opbouende glimlag gehad.

“Hy het altyd die hardste gelag. Ons is dankbaar vir die tyd wat ons saam met Lionel kon deurbring en sal hom altyd na aan ons harte hou.”

Cornelius word Saterdag in Bredasdorp begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article