Die 17-jarige Chris Jordaan van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS), wat twee weke gelede ernstig beseer is in ’n rugbywedstryd, sterk goed aan.
Dit is die goeie nuus wat die Jordaan-gesin vandeesweek gedeel het.
Chris het ’n ernstig kopbesering opgedoen in sy eerstespan-rugbywedstryd teen Afrikaanse Hoër Seunsskool (Affies) in Pretoria.
Ryno Rust, die sportwetenskaplike van HJS se rugbyspan, het verlede week aan Paarl Post vertel dat Chris in die vierde minuut van die wedstryd in ’n kontaksituasie op ’n baie lelike manier geval en sy kop teen die grond gestamp het. Hy moes van die veld gedra word en het kort daarna ’n seizurebegin kry wat ’n aanduiding was van ’n moontlike neurologiese besering.
Chris is in die waakeenheid van ’n Pretoriase hospitaal opgeneem waar ’n neurochirurg skanderings en verdere toetse gedoen het.
Daar is bevind dat hy ernstige bloeding op die brein opgedoen het.
Chris is na die teater gehaas waar ’n noodoperasie uitgevoer is om die drukking op sy brein te verlig en om van die bloeding ontslae te raak.
Nog ’n terugslag is beleef toe hy ’n longinfeksie opgedoen het as gevolg van die ventilator waaraan hy gekoppel moes word.
Ten spyte van die talle uitdagings en trauma beleef deur Chris en sy familie het Chris se pa, Chris snr., vandeesweek laat weet dat sy seun se vordering goed lyk.
Hy het gesê Chris is geskuif na die rehabilitasie-eenheid van die hospitaal waar hy verder geëvalueer sal word.
“Hy sit regop en praat en eet ook. Hy is wel gefrustreerd omdat hy nog nie als kan doen wat hy wil nie. Elke dag kom daar wel iets by wat hy kan doen en dit is verblydend.”





