Twee Bolandse rugbyklubs het skuld beken op klagte van boewery, en die Boland Rugbyunie (BRU) het blykbaar ’n stewige boete aan Porterville-rugbyklub opgelê vir die geweld wat vroeër vandeesmaand by ’n klubwedstryd daar uitgebreek het.

Die BRU het bevestig dat Porterville en Good Hopes skuld beken het oor die voorvalle en getugtig is.

Die voorvalle het onlangs by Porterville-klub plaasgevind waar die klippe en bierbottels tydens ’n wedstryd gevlieg het en ondersteuners getref en beseer is. Die klub is deur BRU getugtig en is met R24 000 beboet en het ook ’n opgeskorte vonnis van twee jaar gekry. Oortree die klub binne die volgende twee jaar, kan hy lewenslank geskors word.

Porterville se oorblywende ligawedstryde sal nou ook weg van hul tuisveld gespeel moet word.

Good Hopes is met R10 000 beboet, waarvan R5 000 opgeskort is. Die klub kan egter dadelik weer speel.

Darling en Abbottsdale, die ander twee klubs wat betrokke was by die geweld, sou Dinsdag weer voor die dissiplinêre komitee verskyn, maar dit is uitgestel tot ’n latere datum omdat nie almal teenwoordig was nie. Hulle bly voorlopig geskors.

’n Gevoel bestaan egter in die Boland-klubrugbykringe dié tugstappe is te lig en die klubs moet swaarder gestraf word om sulke voorvalle vorentoe te voorkom.

Bennie van Rooi, president van die BRU, het vroeër vanjaar gesê hulle wil klubrugby skoon hou sodat dit nie ’n negatiewe impak het op die BRU se planne om die produk vorentoe te neem nie.

Hierdie swak gedrag by wedstryde hou nou ook die gevaar in om ’n demper te plaas op moontlik toekomstige nuwe klubrugby-toernooie. Vroeër vanjaar is aangekondig BRU se top-12-klubspanne sal moontlik in ’n toernooi speel wat op televisie uitgesaai sal word.

Die jongste vlaag van boewery plaas egter ’n vraagteken oor so ’n toernooi.

Van Rooi het weer ’n pleidooi aan klubs en ondersteuners gelewer om die unie se reëls op en van die veld af na te kom en om sportvelde weer veilig te maak. Bron: Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article