’n Splinternuwe loodsprogram om kokke vir ’n loopbaan in onder meer die gasvryheids-bedryf op te lei, is pas deur die Wamakervallei-opleidingsentrum op Wellington op die proef gestel.
Die kursus, wat oor twee weke strek en wat die grondslag lê vir ’n loopbaan as volwaardige kok, is moontlik gemaak deur ’n borgskap wat deur die maatskappy Douglas Green van Wellington aan die sentrum beskikbaar gestel is.
Volgens Estelle Coetzee, fasiliteerder van die blitskursus vir kokke by Wamakers, duur die kursus tien dae. In die eerste vyf dae word studente opgelei in die voorbereiding van ontbyte, ligte gebak, voorgeregte en ligte etes, hulle leer meer oor brood en die verskillende broodtipes soos ciabata, saadbrood,wit en bruin brood, mieliebrood, pizzas en toebroodjievulsels.
Op dag ses in die tweede week maak studente kennis met die pligte van die kelner. Op die sewende dag kom die voorbereiding van hoofgeregte, groentes en slaaie aan die beurt en op die agste dag word gekyk na nageregte. Dag nege en tien word gewy aan die bak van beskuit, klein koekies, groot koeke en koekversiering.
Tydens die kursus word studente ook blootgestel aan die bediening van wyn en besoek hulle ’n wynkelder. Daar word ook besoek afgelê by ’n koffieroostery, aandag word gegee aan blommerang-skikkings en ’n gesondheids-beampte van die munisipaliteit gesels met hulle oor higiëne en die skoonmaak van die kombuis.
Die toppresteerder van die verskillende groepe wat die kursus bywoon, sal ook genooi word om vir ’n proeftydperk in een van Douglas Green se restaurante saam met ander kokke te werk.
Elsabe Lintveldt, die hoof van Wamakers sê die kursus poog om ’n deeglike inleiding tot die beroep van goeie kokke te bied. Dit sal ook mense wat in die rigting belangstel help om makliker ’n aanstelling as hulp in die kombuise van restaurante en gastehuise te kry.
Meer besonderhede oor Wamakers se nuwe blitskursus vir kokke kan verkry word by 021 873 5942.
* Wamakersvallei Training Centre in Wellington is now offering a crash course in cooking.


