Die Sanlam Derby Champs-beker het Saterdag (29 Augustus) vir die eerste keer sy tuiste in Wellington gevind toe Bergrivier Sekondêre Skool (BR) Klein Nederburg Sekondêre Skool (KN) in die eindstryd met 22-17 geklop het.
KN, die eerste wenners van die kompetisie in 2024, het vroeër sterk begin deur hul jare lange mededingers, New Orleans Sekondêre Skool (Noss), in hul jaarlikse derby te klop. Die span het ook Vrydagaand (28 Augustus) vir Wellington Sekondêre Skool (Wellington) verslaan.
Maar BR se kaptein, Nehemia Fredericks, en sy span het ander planne gehad.
Die Wellingtoners het vinnig weggespring en reeds in die 11de minuut hul eerste drie gedruk nadat hulle ’n vinnige tik ná ’n strafskop geneem het. Die drie is egter nie verdoel nie.
Sowat vyf minute later het BR weer oor die doellyn gegaan nadat KN se Malik Hendricks nie daarin kon slaag om ’n bal te vang nie. Die omskakeling was weer onsuksesvol.
KN het in die 26ste minuut nuwe hoop gekry toe Carlton Crouws die bal agter die pale geplant het. Ook dié drie is nie verdoel nie.
BR se skrumskakel het kort tevore ’n geel kaart vir ’n hoë duikslag gekry.
Teen rustyd was BR met 10-5 voor.
Ethan Appolis het kort ná rustyd BR se voorsprong uitgebrei met nóg ’n drie, maar die span kon weer nie die omskakeling laat slaag nie.
Tien minute later het Keenan Luikies ’n verdere drie vir BR gedruk. Dié keer was die omskakeling suksesvol en BR het met 22-5 voorgeloop.
KN het egter nie gaan lê nie.
Die span het vyf minute later met ’n verdoelde drie teruggeveg voordat Crouws kort daarna sy tweede drie van die wedstryd gedruk het. KN het ook daarin geslaag om dié drie te verdoel, maar dit was nie genoeg om BR se voorsprong in te haal nie.
Die eindfluitjie het geblaas met die telling 22-17 in BR se guns.
BR se afrigter, Charlton Windvogel, sê die span het die hele jaar vir dié oomblik voorberei.
“Ons het vir die ouens gesê hulle moet net uitgaan en dit geniet,” sê hy.
Volgens Windvogel het die span uiteindelik die vrugte gepluk van die harde werk wat hulle deur die jaar ingesit het.
Verskeie spelers is ná die toernooi vir hul uitsonderlike spel uitgewys.
Keenan Luikies van BR het die Africem-drie van die toernooi gewen, terwyl Carlton Crouws van KN as speler van die toernooi aangewys is.
Ju-Kaydo Johnson van BR is as agterspeler van die toernooi aangewys en Josh Julies van Noorder-Paarl-hoërskool as voorspeler van die toernooi.
KN het ná die eindstryd hul silwermedaljes ontvang voordat BR as die nuwe Sanlam Derby Champs-kampioene gekroon is.
Die dag se verrigtinge het met die wedstryde om die plaat begin.
Weltevrede Sekondêre Skool (WT) het Charleston Hill Sekondêre Skool (CH) met 27-8 geklop om die sewende plek in die toernooi te beklink.
New Orleans Sekondêre Skool (Noss) het daarna vir Paulus Joubert Sekondêre Skool (Paulus) met 17-5 verslaan. Paulus, wat verlede jaar die beker gewen het, moes dié keer met die sesde plek tevrede wees.
Noorder Paarl-hoërskool het Wellington Sekondêre Skool (Wellington) daarna met 26-7 geklop om derde plek in die bekerafdeling te verseker.
Die finale punteleer was:
BR – eerste plek
KN – tweede plek
NP – derde plek
Wellington – vierde plek
Noss – vyfde plek
Paulus – sesde plek
WT – sewende plek
CH – agtste plek





