Die Wellingtonse Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) het onlangs hul jaarvergadering gehou, waar die bestuur die verloop van 2025 bespreek het, insluitend die suksesse en uitdagings wat die jaar ingehou het. Die ACVV het ook vlugtig besin oor die volgende paar jaar wat voorlê.
Die gasspreker by die geleent- heid was Handri Liebenberg, die direkteur van die departement van gesondheid in die Kaapse Wynlande. Sy het gaste ‘n oorsig van gesondheidsorg in die Wes-Kaap gegee. Sy het ook talle bekommernisse uitgelig – een daarvan dat die provinsie tans ‘n uitbreking van masels ervaar en dat tuberkulose ook in die provinsie opslae maak.
Nog ‘n kommerwekkende tendens is dat kinders – hoofsaaklik in die Wes-Kaap en veral in die Breedevallei – volgens haar weens wanvoeding te klein is vir hul ouderdom, wat veroorsaak dat hulle stadiger groei en hul brein en kognitiewe vermoë stadiger ontwikkel.
Om hierdie tendens hok te slaan, het Liebeberg en haar span ‘n “stunting prevention-program” van stapel gestuur om swanger vroue op te voed oor watter voedsel om in te neem asook om voedsel aan die ma’s en hul baba’s te voorsien.
Nóg ‘n program is die “Planet Youth-projek” wat in 40 Weskusskole uitgerol is en op leerders se geestesgesondheid fokus.
Liebenberg sê die departement beplan om voorskrifte van twee na ses maande te verleng, en eerder as om medikasie by klinkieke af te haal, dit by geregistreerde afhaalpunte beskikbaar te stel.
Volgens die Wellington-ACVV se jaarverslag, wat deur dr. Elna von Slicht, die burgemeester van die Kaapse-wynland-distrikmunisipaliteit (KWDM) asook die voorsitter van die Wellington ACVV voorgelê is, het die tak dienste aan 215 gesinne gelewer, wat onder meer klagte van seksuele en emosionele mishandeling, kinderverwaarlosing, pleegsorgdienste, veiligheids- en pleegsorgkeurings en mediasie en ouerskapsplanne insluit.
Die jaarverslag het ook aangedui dat “fisieke en seksuele verwaarlosing van kinders” dikwels binne die ACVV-Wellington-gebied voorgekom het, en die “behoefte en navraag na kos, klere en komberse” toegeneem het.
Die ACVV-tak het ook ‘n toename in aanmeldings in 2025 aangedui.
“Daar was [ook] ‘n beduidende groei in die getal pleegsorgkinders en hoërisiko-kinders wat gedragsprobleme by die huis en skool ontwikkel.”
Die jaarverslag wys ook dat slegs drie kinders in pleegsorg geplaas is teenoor 2024.



