‘n Volledige lys van Wellingtonners wat kwalifiseer vir regshulp en wat beswaar maak teen die oprigting van ’n verbrandingsoond by hulle dorp, het ’n lêer met honderde getekende besware aan Larry Eichstadt (regs), ‘n bestuurskonsultant gemoeid met die finale impakstudie oor die oprigting van die oond oorhandig. Die oorhandiging het plaasgevind kort nadat WAAI, ’n ander Wellingtonse organisasie wat teen die oprigting van die oond beswaar maak, vrugteloos probeer het om die opstellers van die finale verslag te oorreed om die tydperk waarin teen die oond beswaar gemaak kan word, verleng word.Foto:


WAAI (Wellington Association against the Incinerator), een van die organisasies waardeur inwoners van Wellington probeer om die oprigting van die vullisverbrandingsoond by hul dorp te keer, het die afgelope week sonder enige sukses probeer om die laaste datum waarop beswaar teen die oond gemaak kan word, uitgestel te kry.

Volgens Christine van Wyk, een van die bestuurslede van WAAI, het die bestuur van WAAI twee weke gelede vergader met Larry Eichstadt, ’n bestuurs­konsultant gemoeid met die opstel van die finale verslag oor die impak wat so ’n oond op Wellington en omgewing sal hê.

“Ons het gevoel hierdie verslag raak soveel sake aan waaroor ons ernstig bekommerd is, dat ons tyd nodig het om behoorlik daarop te reageer. Om een voorbeeld te noem: tot dusver het die munisipaliteit en die maatskappy wat die verbrandingsoond wil oprig, heftig ontken dat die oond enige gesondheidsgevaar vir die mense in die omgewing inhou. Die verslag sê egter baie duidelik die oond gaan wel giftige gasse die lug in stuur en dit kan ’n nadelige uitwerking hê op mense wat binne 10 km van die oond af woon.”

Beswaarmakers moes hul besware voor of op 4 Desember aan die opstellers van die studie instuur. WAAI het gevra dat hierdie datum tot ten minste die einde Januarie 2018 uitgestel word.

Eichstadt het egter geweier om enige verdere uitstel te gee. Al wat die opstellers van die verslag bereid is om te doen, is om beswaarmakers te verseker hul besware wat ná 4 Desember ontvang word, bestudeer sal word.

Die finale besluit of die oond wel opgerig gaan word of nie, sal volgens Eichstadt voor die einde van Februarie 2018 bekendgemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article