Skote was afgevuur tydens Donderdagaand nadat vier gewapende rowers op ‘n plaashuis in Wellington toegesak het.
‘n Bron na aan die familie het aan Paarl Post bevestig dat die vier verdagtes, twee met handwapens en twee met messe, om ongeveer 20:00 die egpaar wat op die plaas woonagtig is, benader het.
“Dit is mans wat in die area besig was om mense te teiken vir roof waarvan die Wellington-polisie bewus is. Hulle het die man wat op die voorstoep gesit en ontspan het, benader en gesê hulle wil niemand seermaak nie en wil net geld hê.”
Meer as een skoot is tydens die voorval afgevuur, waarna die verdagtes te voet die toneel gevlug het.
Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen het die voorval bevestig. ” ‘n Ondersoek tot huisroof is van stapel gestuur. Ondersoekbeamptes, Vispol en die honde-eenheid was onder andere teenwoordig om die verdagtes se spoor op te tel. Nog geen arrestasies is gemaak nie, en geen beserings was aangemeld.”



