Jean Van Reenen Olivier (17) sou dié jaar ’n matrikulant aan die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) gewees het.Foto: Facebook


Toe Van Reenen Olivier (17) die skoolterrein van die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) voor die skoolvakansie verlaat het, het niemand gedink hy sou nie vir sy matriekjaar na die skool terugkeer nie.

Van Reenen het kort ná Kersdag, op 28 Desember, in die Oranjerivier verdrink. Die magtige waters van die rivier, wat in vloed was ná swaar reën in die noordelike gedeeltes van die land, het vermoedelik die seun se kragte oorweldig toe hy in die rivier wou gaan afkoel.

Hy en ’n vriendin van Namibië, Deirdré Clift, het op die dag om 17:50 by Swartbooisberg in die Oranjerivier by Kakamas in die Noord-Kaap gaan swem. Hulle wou na die oorkantste oewer van die rivier swem, maar Deirdré het van plan verander toe haar bene glo begin kramp, en het omgedraai.

Toe sy in ’n stadium terugkyk, het Van Reenen onder die water naby die oorkantste oewer verdwyn.

Sy het alarm gemaak en inwoners en boere van Kakamas het onmiddellik hul kragte ingespan om na die seun te begin soek.

Die polisie en ’n soek-en-redding-eenheid van Kimberley en die duikeenheid van Upington is ontbied.

Van Reenen se liggaam is drie dae later, op 31 Desember, gevind en uit die Oranjerivier gehaal.

’n Huldeblyk ter ere aan Van Reenen op die Hoër Jongenskool Paarl se Facebook-blad het as volg gelui: “Dis met hartseer dat ons afskeid neem van ons broer in blou.

“Jean Van Reenen Olivier was ’n voorbeeldige en nederige Boishaaier en inwoner van die koshuis Imhoff. Die Boishaai-familie se harte en gebede gaan uit na die Olivier-gesin en ons dra die familie op aan ons Hemelse Vader.”

Van Reenen se roudiens het saam met die oggenddiens op Sondag (2 Januarie) in die NG kerk Kakamas geskied.

Tydens die diens het sy pa, Jean Olivier, die volgende hartstogtelike pleidooi gelewer: “Ouers, wees lief vir jul kinders, en kinders, wees lief vir jul ouers.”

A learner from Paarl Boys’ High School drowned after being overwhemled by flood waters in the Orange River in Kakamas, Northern Cape. Bron: Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article